Die Hoërskool Fichardtpark is besonder trots op sy blits-atleet Natasha Gertenbach (gr. 11), wat van Maandag (01/06) tot 6 Augustus aan die o.20-wêreldatletiekkampioenskapsbyeenkoms in Colombië gaan deelneem.
Sy is in die Suid-Afrikaanse span ingesluit om aan die 100 m-hekkiesnommer deel te neem.
Dit is die eerste keer dat ’n leerling van dié skool aan ’n internasionale junior kampioenskapsbyeenkoms gaan deelneem.
Louw Prinsloo, sportkoördineerder by Fichardtpark, sê Natasha se insluiting in die span spruit uit haar prestasie in verskeie senior kampioenskappe terwyl sy nog ’n o.18-atleet is.
Sy het die afgelope seisoen benewens goud in die 100 m-hekkies ook op verskeie byeenkomste in die 100 m- en 200 m-wedloop uitgeblink.
Natasha beklee die eerste plek op die Suid-Afrikaanse ranglys vir haar 2022-prestasie in die 100 m-hekkies vir vroue o.20.
Sy word deur Elinda Vorster afgerig.