Die ondervinding wat sy verlede jaar in Europa opgedoen het, gaan nou goed te pas kom wanneer sy Saterdag (11/02) in Oudtshoorn jaag.
Só sê oudleerling van die Hoërskool Sentraal Madelaine le Roux, wat haar eerste jaar as lid van ’n Europese span voltooi het. Sy sê een van die grootste aanpassings wat sy moes hanteer, was om daaraan gewoond te raak om in ’n peloton te ry.
Le Roux (26) keer Dinsdag (14/02) terug na Aigle, Switserland, waar sy vanjaar weer vir die Internasionale Fietsry-unie (UCI) se wêreldfietsrysentrum sal ry. Fietsryers wat vir die program gekies word, is uitsoekkandidate wat oor die potensiaal beskik om die sportsoort in die toekoms op ’n hoër vlak te beoefen.
“In die Suid-Afrikaanse wedrenne kry ’n mens dit nie dat dit (die peloton) so groot is en dat die ryers so naby aan mekaar ry nie. Dit is omtrent soos ’n wasmasjien,” sê Le Roux.
“Jy wil die heeltyd voor in die peloton wees; nie noodwendig in die voorste ry nie, maar in die derde ry of so.
“Ek moet dit nog leer: As jy nie jou man staan nie, dan is dit soos ’n wasmasjien, waar jy net agtertoe gegooi word. Dan is dit soos ’n rondomtalie waar jy vorentoe en agtertoe gaan.”
Voordat Le Roux in 2021 uitsluitlik op fietsry gefokus het, het sy aan driekamp deelgeneem. Sy bring in Switserland baie tyd op ’n cyclocross-fiets deur, wat sy gebruik om haar vaardighede te verbeter.
Sy het einde verlede jaar na Suid-Afrika teruggekeer vir ’n ruskans en om aan die 94.7-fietswedren in November deel te neem. Sy is nou in Oudtshoorn, waar sy gaan deelneem Suid-Afrikaanse padkampioenskap, wat van 8 tot 12 Februarie plaasvind.
Sy neem Donderdag (09/02) deel aan die tydtoetse en Saterdag aan die padresies.
“Ek wil nie my verwagtinge te hoog stel nie, omdat dit onnodig druk op my plaas. Dit sal lekker wees om onder die top drie klaar te maak.
“My ondervinding in Europa help baie en ek pak hierdie wedren met baie meer ervaring aan,” het sy Dinsdag gesê.
Haar mikpunt vir die jaar is om ’n kontrak vir 2024 met ’n groot span te sluit.
Een van Le Roux se drome is om in die toekoms die Bobaas van die berge-trui in die Tour de France vir vroue te dra.