Bloedjonk seuns tot oupas met kieries sal hulle volgende naweek kan verkyk aan ’n groot verskeidenheid veteraan-trekkers en enjins. Daar sal hulle demonstrasies sien wat wys hoe ’n mens dinge doen soos ’n skape skeer of ploeg.
Die tiende Bloem-familietrekkerfees word van 6 tot 7 Oktober by die Ferreira-museum in Speserylaan, Kwaggafontein, buite Bloemfontein aangebied.
Die fees word in samewerking met die Sentraal-Vrystaat Veteraantrekker-en-enjinklub (SVVK) aangebied.
Vanjaar word die fees oor twee dae gehou met die eindronde van die nasionale Engen enjin-restourasie-uitdaging wat in samewerking met die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker-en-enjinklubs (Savtec) aangebied word.
Jongmense sal 23 enjins wat hulle gerestoureer het, aan die beoordelaars wys en die restourasie-proses verduidelik. Pryse in vier kategorieë sal aan waardige wenners oorhandig word. Die kategorieë waarin deelgeneem word is die kompakte-enjins vir juniors (18 jaar en jonger), standaard-enjins vir juniors (18 jaar en jonger), standaard-enjins vir seniors (19 tot 30 jaar) en standaard-enjins in die meesters-klas vir deelnemers wat ’n vorige keer aan die kompetisie deelgeneem het.
Die totale wengeld vir die kompetisie is R160 000.
Die beoordeling vind Vrydag deur die dag plaas en die publiek sal dus Saterdag sien wie die wenners was.
Jannie Ferreira, eienaar van die Ferreira-trekkermuseum waar die fees aangebied word, sê die doel van die fees val mooi saam met die doel van die SVVK om outentieke plaastoerusting, trekkers, werktuie en enjins te bewaar.
“Wat help dit jy restoureer ’n trekker of ’n enjin en steek dit dan weg? Jy wil tog bietjie daarmee spog. “Restourasiewerk leer die jonger geslag oor hoe hierdie toerusting, trekkers en enjins werk en wakker ’n liefde vir bewaring en restourasie by hulle aan,” verduidelik hy.
Eric Mouton, voorsitter van die SVVK, sê die eerste fees wat aangebied was, was meer ’n opedag as ’n fees.
“Daar was sowat tien trekkers en enjins wat lede kom uitstal het. Die dag het elke jaar bly groei tot Rudie Herbst betrokke geraak het om die leisels te neem vir die reël van die jaarlikse Bloem-familietrekkerfees.”
Verlede jaar was daar sowat 1 500 mense by die fees en vanjaar word daar weer trekkers en enjins van oor die land heen verwag.
Daar gaan 91 stalletjies wees wat alles van motortoebehore en buitelewe-toerusting tot lekker verversings verkoop.
Die fees begin Vrydag en Saterdag om 08:00 en duur tot 16:00. Toegang is R40, en R10 vir kinders.