Bloemfontein, gryp die springmielies vir première van Afrikaanse #Lovemyselfie

Bloemfonteiners kan uitsien na die première van ’n splinternuwe Afrikaanse rolprent, wat die geskiedenisboeke herskryf het.


Bloemfonteiners kan uitsien na die première van ’n splinternuwe Afrikaanse rolprent, wat die geskiedenisboeke herskryf het.

Dit is in aanloop tot die nasionale uitreiking van die dramedie #Lovemyselfie op 8 Maart.

Ná ’n toer aan die kus en in Midrand sal die rolprent vroeg in Maart by 15 rolprentteaters, insluitend Nu Metro in die Loch Logan-waterfront, begin draai.

“Ons is opgewonde oor die uitreiking van #Lovemyselfie. Met die veranderende mark in gedagte, ná Covid-19, het Nu Metro die noodsaaklikheid daarvan besef om die plaaslike bedryf te ondersteun,” sê Melanie Williams, hoof van bemarking by Nu Metro.

“Ons hoop dat gehore by hierdie rolprent sal aanklank vind en dat dit die ondersteuning sal kry wat dit verdien.”

Gehore kan ’n mengelmoes van emosies verwag terwyl hulle die rolprent kyk – met alles van bittersoet-oomblikke tot lag-uit-die-maag-verrassings. Die fliek spog met ’n uitstaande rolverdeling, insluitende Illse Roos, Kevin Smith, June van Merch, Hélène Truter, Joanie Combrink en Lida Botha.

Illse Roos vertolk die rol van Adel Swan in die Afrikaanse rolprent #Lovemyselfie.Foto: Verskaf

Lika Berning is die regisseur van die prent.

“Ons kan nie wag dat gehore binnekort #Lovemyselfie in teaters ervaar nie. Daar is nie ’n beter manier om ’n rolprent te geniet as in ’n donker teater sonder afleidings nie. Ons hoop dat mense die ervaring van fliek-toe-gaan sal herontdek.”

Naas die hoofrolspelers bied die fliek uitsonderlike talent in ondersteunende rolle, insluitende TikTok-sensasie Chané Grobler, komediant Moses Williams, Robyn Scott, Chanelle de Jager, Chris van Niekerk en Thokozile Ntshinga. ’n Kamee-vertolking word ook deur die mede-vervaardiger Kurt Darren gedoen.

#Lovemyselfie volg die verhaal van plaaslike TV-ster Adele Swan wat, nadat sy die verraad van haar verloofde besef, ‘n reis van self-ontdekking aanpak. Wanneer sy ‘n kans kry om haar geldelike standvastigheid te herwin deur die gesig van ‘n veldtog op ’n luukse plesierboot te word, raak Adele verstrengel in onverwagte avonture en herontdek sy ou verhoudings.

Geskiedenis is gemaak deurdat dit die eerste Suid-Afrikaanse rolprentgeselskap was wat ’n prent op ‘n MSC-plesierboot verfilm het. Daar was talle uitdagings, soos dat die span deur die nag moes werk, om nie vakansiegangers te pla nie.

“Ek kon nie vir ’n beter verfilming- en akteursspan gevra het nie,” sê Berning.

“Ondanks lang ure – ons het daagliks tussen 23:00 en 06:00 verfilm – het die span professioneel en positief gebly, en dit wys regtig op die skerm. Die ondersteuning van die span by MSC Cruises het ’n groot verskil gemaak; ons is werklik dankbaar dat hulle dit moontlik gemaak het.”

Ross Volk, uitvoerende direkteur van MSC Cruises Suid-Afrika, sê hulle was verheug om saam te werk met die span agter #Lovemyselfie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.