Informele herwinnaars werk in massas langs die pad verby die Suidpark-begraafplaas na die suidelike stortingsterrein waar inwoners hul vullis gooi omdat hulle nie toegang tot die stortingsterrein kan kry nie.Foto: Lientjie Mentz


Inwoners van die noorde van Bloemfontein het die naweek diesel geskenk sodat werk op die noordelike stortingsterrein kon voortgaan.

Dit kom nadat die Mangaung-metro reeds weke lank administratiewe probleme ondervind en die dieselprys ook môre styg.

Oproepe het die naweek uitgegaan na die publiek om die metro met diesel en skenkings te help.

Hoewel werk op die noordelike stortingsterrein nog voortgaan, het werk by die suidelike stortingsterrein verlede week tot ’n stilstand geknars weens die dieseltekort.

Marius Scholtz, ’n sake-eienaar van dromdienste in die metro, sê hulle kon van Maandag 25 September nie in die suidelike stortingsterrein inkom nie.

“Vandag kon ek weer nie daar inkom nie en moes al die pad tot by die noordelike stortingsterrein ry om vullis af te laai,” het hy vandag gesê.

Hy sê formele en informele eienaars van dromdienste, is moedeloos oor die afwesigheid van diens by die suidelike stortingsterrein.

Talle mense, selfs polisielede in ’n polisiebakkie, het vandag op die teerpad vanaf Oliver Tambostraat kort duskant die Suidpark-begraafplaas, vullis afgelaai.

Die teerpad verby Suidpark, was vandag reeds ’n reuse-vullishoop met net ’n nou pad tussen die vullis deur tot by die stortingsterrein.

Tobie Bester en Riaan Kruger wat ook dromdienste bied en daagliks talle ritte na die suidelike stortingsterrein onderneem om klante se tuinvullis en huishoudelike afval te verwyder, het gesê hulle het vullis net oor die weegbrug afgelaai. “Ons kon nie dieper inry nie. Almal wat tot binne ry, laai net daar by die brug af,” het hy gesê.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, het in ’n nuusverklaring Vrydag gesê die metro werk voluit om die probleem met vullisverwydering op te los.

“Die metro het die laaste paar weke uitdagings ondervind met vullisverwyderingsdienste weens voertuie wat onklaar geraak het en brandstoftekorte. Dit is gedeeltelik te wyte aan die prysverhoging wat Woensdag ingestel word,” het Khedama in die verklaring gesê.

Hy sê die metro werk nou aan ’n proses om te registreer by ’n nasionale kontrak om in die toekoms probleme met dienslewering te verminder.

“Ons probeer alles om dienslewering aan die gemeenskap weer te normaliseer,” het hy gesê

Selmé Pretorius, DA-wyksraadslid het vanmiddag gesê daar is nog geen diesel beskikbaar nie. “Hopelik sal daar môre diesel wees.”

Die bestuur van die afdeling van gemeenskapsdienste het onderneem om van Woensdag af permanent op die suidelike stortingsterrein te wees om die stortingsterrein weer aan die gang te kry.

Scholtz sê inwoners is moedeloos met vullis wat by hul huise ophoop. Hy sê hulle is so tussen 40 en 50 dromdiensondernemings in die stad, maar as ’n mens die informele sakelui insluit wat met bakkies vragte vullis gaan aflewer, is daar seker sowat 100 verskillende ondernemings wat dié dienste lewer.

“Ek sien elke week nuwe bakkies wat met vullisverwydering begin help,” het hy gesê.

Boonop is die ou pad wat vanaf Fauna na die stortingsterrein gelei het, vervang met die nuwe Vereeniging-verlengpad wat geen toegang tot die suidelike stortingsterrein bied nie.

Die pad wat aan Hamilton se kant van die brug oor die Ferreirapad na regs afdraai, lei tot ’n nuwe residensiële ontwikkeling en bied geen toegang tot die stortingsterrein nie.

Om hierdie rede laai mense die afgelope jare vullis langs die Ferreirapad af om die groot draai tot by die suidelike stortingsterrein te vermy. Vir ’n radius van ongeveer ’n kilometer rondom die suidelike stortingsterrein hoop vullis wat mense onwettig daar stort, nou al maande lank op.

You need to be Logged In to leave a comment.