Debbie en Dirk Conradie van Bloemfontein het die prys vir Rookie van die Jaar gewen op die Bull Run 2025.

Twee Bloemfonteiners se kreatiwiteit en harde werk het hulle ‘n prys besorg tussen 60 ander nuwelinge op die tydskrif Weg Ry & Wegsleep se jaarlikse Bul Run op Van Wyksvlei in die Noord-Kaap.

Debbie en Dirk Conradie droom al jare daarvan om aan hierdie prettige naweek deel te neem.

Die Bul Run behels dat spanne met motors wat ouer as 40 jaar is, maar wat ten volle geregistreer is en nie meer as R50 000 kos nie, aan die naweeklange uitdaging deelneem. Die bedrag sluit die waarde van die motor asook die lisensiekoste, herstelwerk, bande, verf, plakkers en die fur op die dashbord in.

Dirk en Debbie Conradie en Wendy die pop op Van Wyksvlei. FOTO: Verskaf

Die uitdaging het vanjaar van 9 tot 13 Oktober plaasgevind.

Toe die Conradie-egpaar in 2023 albei 50 jaar oud word, het hulle vir vriende gevra om in die plek van geskenke eerder vir hulle geld te skenk om deel van die Bul Run te wees.

“Dit het daardie jaar nie uitgewerk nie,” vertel Debbie. “Daar het die heeltyd iets voorgeval en verlede jaar het ons van die plaas af stad toe getrek, so daar was nooit regtig tyd nie.”

Intusen het hulle in Januarie ‘n oulike 1976 Datsun 14Y in die hande gekry by ‘n “Uncle” op Roodewal.

Die werk aan die Datsun het begin. Harde handewerk wat hulle in ‘n blits-tyd van drie maande oor naweke gedoen het. Dirk het gebou en Debbie het geverf tot ounag toe.

“Dinge het nog op die nippertjie gebeur,” vertel Debbie. “Ons het Woensdag 8 Oktober hier uit Bloemfontein weggetrek en die kar is eers die middag 15:00 deur die toets gesit waarna ons ‘n groen lig gehad het om die lang pad aan te durf.”

Sy sê die meeste van die sowat 160 deelnemers verkies om hul motors na Vanwyksvlei te sleep.

“Nie ons nie. Die rit tot in Vanwyksvlei was deel van ons journey. Die Datsun het nuwe skokbrekers, so die laaste 80km-grondpad was niks,” vertel Debbie.

“Ons het klein bietjie moeilikheid gehad met die wegry uit die stad. Ons het eers so 19:30 weg gekom en was skaars op die N1, toe die ligte skielik vrek. Dirk het uitgespring en gou was ons weer op pad. Gelukkig kan Dirkie enige ding doen,” sê Debbie.

Van Wyksvlei se skouterrein is omskep in ‘n kampeerplek vir die Bull Run 2025. FOTO: Verskaf

“Net voor Tom’s Place het die kar begin kook. Weer het Dirkie uitgespring en sy ding gedoen. Ek het net gebid dat ons dit veilig tot in Richmond maak.”

Nadat hulle die aand in Richmond oornag het, is hulle die Donderdag verder. Dirk sê toe hulle op Van Wyksvlei aankom, was dit soos om jare gelede op intervarsity aan te kom. “Almal kuier en gesels met mekaar. Daar was ‘n vrek lekker vibe.”

Vrydag het hulle twee en Wendy, ‘n winkelpop wat hulle so ewe op die agterste sitplek langs Engel – die yskas – staangemaak het, die rally voltooi.

Mack op die Datsun se enjinkap ry trots voor. FOTO: Lientjie Mentz

“Die atmosfeer op die Bull Run is ongelooflik,” sê Dirk. “Mense kom verby en plak plakkers op jou kar, of skryf vir jou boodskappe.”

Met Saterdag se drag racing het die twee hulself gate uit geniet.

Hulle het beslis iets reg gedoen en is beloon as Rookie-span van die jaar.

“Nou moet ons nog iets aan die trofee vas swys sodat ons dit volgende jaar kan terugneem,” sê Dirk met ‘n groot glimlag oor dié heerlike ervaring. “Ons het reeds ‘n ander enjin wat ons wil insit.”

Ry saam met die 3D’s op vanjaar se Bull Run. Video: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.