Bloemfonteiner Louzanne Coetzee het ’n bronsmedalje losgeslaan deur haar beste tyd van 4:35.49 te hardloop in die 1500 m (T11) vanoggend op die Paralimpiese Spele in Parys.
Sy het gister saam met gids Estean Badenhorst deurgedring na die wedloop om 10:00 vanoggend in die State de France, nadat sy die uitdun in die naasbeste algehele tyd voltooi het en saam met die voorste atlete deurgedring het.
Die Etiopiër Yayesh Gate Tesfaw en haar gids Kindu Sisay Girma het die wedloop gewen, in ’n wêreldrekordtyd van 4:27.68.
Die deelnemer van China Shanshan He, wat gister die vinnigste in die uitdun was met ’n tyd van 4:44.66, was tweede met 4:32.82
Louzanne en Estian het in die pylvak deurgebreek om ’n derde plek in dié spannende wedloop te haal.
Op die Paralimpiese Spele in Tokio het Louzanne ’n silwermedalje in dié nommer verower.
Sy neem op 8 September saam met haar gids Claus Kempen deel aan die marathon op vanjaar se spele en sal wil verbeter ná haar bronsmedalje in dié nommer in 2021.