Wat is ’n stad se hart?
Vir elke mens is dit seker anders – elkeen het sy unieke ervarings en herinnerings.
Tog is daar daardie misterie – iets wat almal wat lief is vir ’n stad, saambind.
Ek stap vroeër die week in ’n tuin en daar, half versteek onder ’n struik, lê ’n speelgoed-brandweerwa.
Dit is duidelik dat die speelding ’n rukkie lank vergete onder die struik lê, nog so halfvol reënwater van die afgelope week se genadereën.
Bloemfontein is half soos hierdie speelgoed-wa – dis mooi, maar vol modder en water.
Ek is seker die seuntjie aan wie die wa behoort, het mooi herinneringe aan die dag toe hy dit gekry het.
Die stad van my kinderjare was in sekere opsigte baie anders as vandag.
Ek onthou hoe ons met die bus van Fichardtpark af middestad toe gery het vir inkopies toe ek nog ’n kleuter was. Een van my gunsteling-bestemmings op dié uitstappies was die stadsbiblioteek met sy mooi koeltetuin. Hier kon ons tussen die mooiste prenteboeke soek na een wat ons nog nie gelees het nie, om dit vir twee weke huis toe te neem.
Een van die jaarlikse hoogtepunte in die stad was die universiteit se vrolike jooloptog wat deur die middestad beweeg het. Die helder versierde waens met vrolike studente wat blikkies skud en die klein handjies wat munte daarin gooi.
Soms het ons op Sondae-middae deur die stad gery. Gaan motors kyk in Kerkstraat of in Waverley rondgery om na die mooi huise daar te kyk. Sommer net.
Ek onthou toe die palmbome op die verkeerseilande in Fichardtpark geplant is.
Die suide het dalk nie soveel groenigheid soos die ouer, noordelike dele van die stad nie, maar destyds was dit ’n kinder-paradys. Kleintyd het ons in stil strate fiets gery.
Daar was geen heinings en elektriese hekke voor huise nie. Kinders kon nog speel en hardloop en klouter.
Sommige dele van die stad het dekades later nog nie veel verander nie. Net soos vroeër kan jy steeds die voetpaadjies teen die koppie in die Vrystaatse Nasionale Botaniese Tuin volg. Die bome in die tuin is vandag selfs groter en die skaduwees oor die groen grasperke, dieper.
Steeds is een van die beste prentjies oor die stad dié bo van Naval Hill af. Van daar is die deel van Unielaan tot bo by Oliewenhuis ’n digte, groen bos.
Binnekort gaan die jakarandabome se pers bloeisels tussen die skakerings van groen verskyn. Met sypaadjiebome wat reeds goed uitgedos is in ’n groen somerkleed, is dit net ’n plesier om vroegoggend deur die ouer dele van die stad te stap.
Oral in die stad is daar mense wat omgee. Wat hul deeltjie doen om die modder van die brandweerwa skoon te vee: parke opknap, slaggate vul en vullis opruim. Mense wat graag in ’n mooi stad wil woon.
Wat wil trots wees op Bloemfontein en nie verleë wegkyk wanneer hulle moet sê waar hulle vandaan kom nie.
Die stad se hart lê in dié wat vir die stad omgee. Nog altyd.