Prof. Barry Frey, wat vanoggend oorlede is. Foto: Verskaf


Die sekretaris van die Oranje-Rapportryers en organiseerder van die Jan Lambrecht-kultuurvasvra wat vanaand in die personeelkamer van Grey-kollege (primêr) aangebied word, Prof. Barry Frey, is vanoggend by sy huis oorlede.

Willie Engelbrecht, voorsitter van die Bloemfonteinse Afrikanerkultuurraad (BAK), waarvan Frey ook die sekretaris was, sê dit is met groot skok dat diegene in kultuurgeledere van sy dood verneem.

Prof. Barry Frey (links, agter) en Marda Oosthuizen (Dameskring) verlede jaar by die wenspan van 2023 se Rapportyers-vasvra-geleentheid. Hulle is van links Louis Venter, dr. Eben en Simone Proos. Foto: Lientjie Mentz

“Die Oranje-Rapportryers het besluit om voort te gaan met die vasvra vanaand, wat aangebied word ter nagedagtenis van Jan Lambrecht, wat die vasvra vir jare gereël het. Hulle meen Frey sou dit só wou gehad het,” het Engelbrecht aan BloemNuus gesê. Die vasvra wat vanjaar vir die 30ste keer aangebied word, is die hoogtepunt van die Oranje-rapportryers se skakeling met ander kultuurorganisasies in die stad.

Die BAK sou op 10 Oktober op dié organisasie se jaarlikse prestige-eerbewystoekenningsgeselligheid Frey vir sy bydrae tot die Afrikaanse taal en kultuur vereer.

Hy sal die eerbewys nou postuum ontvang, saam met die geskiedkundige prof. André Wessels, Martie Venter en die sanger Jacobus Silwer. Die oorkonde word aan Frey toegeken vir sy jarelange betrokkenheid by, en bevordering van, die Afrikaanse taal en kultuur op verskeie terreine van die Afrikanerkultuurhuishouding en die gemeenskap.

Frey, wat in Krugersdorp gebore is en ’n BSc-graad in dierkunde en chemie, asook ’n honneursgraad, meestersgraad en in 1981 ’n doktorsgraad in dierkunde aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, behaal het, was tot met sy aftrede in 2009 in opvoedkunde betrokke. Met sy aftrede was hy die uitvoerende dekaan van die fakulteit Gesondheid- en Omgewingswetenskap aan die Sentrale Universiteit vir Technologie (SUT).

As voorsitter van die Junior Rapportryerskorps Paratus in Amanzimtoti in 1983 was hy instrumenteel in die verwerwing van die FAK se Hennie Terre’Blanche-wisseltrofee vir die landswye bevordering van Afrikaans. Tydens sy verblyf in Natal het hy van 1983 tot 1986 ook die provinsie op die FAK se nasionale raad verteenwoordig.

As Vrystater en Bloemfonteiner vanaf 1987, het hy afwisselend as lid, voorsitter en, met sy afsterwe, as sekretaris van die Oranje-Rapportryerkorps gedien, en van 2014 tot 2016 as Vrystaatse voorsitter van die Rapportryerbeweging (RRB).

In 2015 het hy ’n eerbewys as die aktiefste raadslid van die RRB ontvang, en hy het van 2016 tot 2018 ook as vise-president van die beweging gedien.

Hy was sedert 2012 sekretaris van die BAK, en van 2021 af lid van die Nasionale Vrouemonument-kommissie.

“Ons eer sy nagedagtenis as steunpilaar in die Afrikanergemeenskap,” sê Engelbrecht.

Frey laat sy vrou, Magda, drie kinders en vier kleinkinders agter.

You need to be Logged In to leave a comment.