’n Boogskutter van Bloemfontein wat vanjaar reeds drie kampioenskapstitels gewen het, gaan sy wêreldkampioenskapstitel in Europa moet verdedig.
Kobus Barnard (55) sal in Augustus op die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms vir boogskiet in Estland aanlê vir ’n vierkuns wanneer hy sy titel as beste manlike skut in die ope afdeling verdedig. Hy het die titel die eerste keer in 2018 gewen.
Wen is niks vreemds vir Barnard, wat vanjaar in drie ander kompetisies as die wenner weggestap het nie. Dit sluit in die nasionale binnenshuise kampioenskapsbyeenkoms en die Vrystaat- én nasionale veldskietkompetisie. Hy pluk nou die vrugte van die afgelope 26 jaar se toewyding en daaglikse harde werk.
Hy het eers in 2008 begin meeding.
In voorafgaande jare het die Bloemfonteiner ook Springbokkleure in silhoeët-skiet verwerf, waarin ’n skut na diervormige staalplate skiet.
“Maar die gewere het my nie meer uitgedaag nie. Toe trek ek die boog nader.”
Sedertdien is hy omtrent elke dag op die skietveld om seker te maak sy oog bly ingestel en sy arm geoefen.
“Jy moet toegewyd bly en ’n goeie dieet handhaaf om topfiks in dié sportsoort te wees, maar dis jou kop en gedagtes wat veral fiks en ingestel moet bly,” meen hy.
’n Skut wen wanneer hy of sy die meeste punte verdien deur 28 teikens elk met vier pyle te skiet. Punte word toegeken volgens die akkuraatheid waarmee die skut elk van die teikens tref, wat tussen 11 en 80 voet ver weg kan wees.
“Die lekker ding van boogskiet is dat enig- iemand van agt jaar oud tot 80 kan deelneem. Dis gesinsvriendelik, sonder dat ’n familietwis hoef te ontaard oor lede wat in dieselfde afdelings meeding,” skerts hy.
Barnard sê sou hy sy doelwit bereik om weer as wêreldkampioen gekroon te word, sal hy in die jare wat volg probeer om die titel so lank as moontlik te behou.