Hannes Pieterse gesels oor sy radiokrimi wat binnekort op RSG uitgesaai word. Foto: Igno van Niekerk


’n Bloemfonteiner se radiodrama word binnekort op RSG uitgesaai as deel van dié stasie se 85ste verjaardagviering.

Hannes Pieterse, jarelange fotograaf by Volksblad en later webredakteur by die Universiteit van die Vrystaat (UV), gebruik sy aftrede om een van sy passies uit te leef: skryf.

Hannes sê hy het hier in die jare 1990 twee kortverhale geskyf wat destyds in Huisgenoot verskyn het.

“Daarna was ek te besig en het eers ná my aftrede weer begin skryf.”

Hy het sy eerste radiodrama vir RSG se jaarlikse Radiodrama-kompetisie in 2020 ingeskryf waar sy inskrywing onder die top 20 geëindig het.

Sy inskrywing vir die kompetisie vir 2021 was onder die top 18 waarvan net die 5 top-stories opgeneem en uitgesaai is.

Groot was Hannes se verbasing toe hulle hom laat weet dat hulle wel sy radiodrama gaan uitsaai.

Die opname is op 11 Oktober by RSG se Seepunt-ateljee gedoen. Bekende akteurs en stemkunstenaars soos Andre Weideman, Melt Sieberhagen, Johann Nel, June van Merch, Kay Smith en Hannah Borthwick was deel van die span wat die drama opgeneem het.

“Dit is nogal uitdagend om ’n radiodrama te skryf. Jy moet elke karakter inkleur en die hele storie en agtergrond moet deur die dialoog geskep word.”

Bettie Kemp is die regisseur en Cassi Lowers het die tegniese versorging gedoen.

Hannes beskryf sy radiodrama Die dood van ’n skrywer, as ’n krimi. “Die idee vir die storie het begin in ’n koffiewinkel. ’n Man wat daar in die hoek gesit en werk het,” vertel hy.

“Dit is nogal uitdagend om ’n radiodrama te skryf. Jy moet elke karakter inkleur en die hele storie en agtergrond moet deur die dialoog geskep word.”

Hannes sê benewens die storielyn oor die moord op die skrywer, is daar talle hedendaagse subtemas wat ook in die storie vorendag kom. “Daar is temas soos geslagsgeweld in huwelike, familiekonflik en die vervlakking van die samelewing en die rol wat sosiale media daarin speel. Daar is ook ’n subtema van die invloed wat Covid-19 op gemeenskappe gehad het.”

Hannes sê hy het grootgeword in ’n huis waar sy onderwyseres-ma, Lovy (90), gereeld kortverhale geskryf het. “Daar het 35 van haar stories in tydskrifte verskyn en sy het ook insetsels gelewer vir die vrouerubriek op RSG,” vertel Hannes. “As jong kinders moes ons gereeld radio luister as van haar bydraes uitgesaai is.”

Hannes sê hy is mal oor lees en geniet Suid-Afrikaanse skrywers se misdaadverhale. “Ek luister ook graag na die kortverhale op RSG en het al baie daar geleer.”

Die dood van ’n skrywer word op Donderdag 10 November om 20:00 op RSG uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.