Die man (73) wat Saterdag saam met sy vrou op sy hoewe in Roodewal aangeval is, is vanmiddag (Donderdag) oorlede.

Die polisie is steeds op soek na die aanvallers wat Ando Swanepoel (73) en sy vrou, Magda (58), Saterdag (02/04) op die hoewe buite hul huis in Campbellton in die noorde van die stad oorval het.

Lt. Kol Thabo Covane, polisiewoordvoerder van die Mangaung-metro, het aan Bloemnuus bevestig dat niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem is nie.

‘n Woordvoerder van die Navalsig GPF sê hulle het Saterdag om 22:40 ‘n oproep van ‘n vrou gekry wat laat weet het dat sy en haar man aangeval is en ernstig beseer is.

“Die verdagte het glo kontant en ander items gesteel. Die buurtwaggroep het onmiddellik gereageer en die polisie en die ambulans na die hoewe op Campbellton ontbied.”

Volgens die polisieverklaring het die egpaar om 20:30 in reën weer by die huis aangekom. Ando het die hekke buite gaan sluit terwyl sy vrou by die huis ingegaan het en deur ‘n vreemde man met ‘n gesigmasker en wit handskoene ingewag is. Hy het haar met ‘n mes gedreig en aangeval. Nog ‘n verdagte het by die eerste aangesluit en die huis deursoek. Hulle het haar gedwing om geld van haar bankrekening oor te plaas en ‘n onbekende bedrag gesteel en geld en bankkaarte gesteel voordat hulle van die toneel af gevlug het.

‘n Saak is by die Navalsig-polisiekantoor oopgemaak en mense met inligting kan sers. Kendrick Barnes by 082-466-7255 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.