BLOEMFONTEIN – Hy is baie dankbaar dat hy ‘n tweede kans op die lewe gekry het.
So glo Dries Botha (32) wat op 12 Oktober op ‘n plaas in Minnesota, Amerika, in ‘n ernsige ongeluk met ‘n Razor-veldkar was en lewensbedreigende beserings opgedoen het.
Dries en sy vrou, Kayla, het Maandag 3 November na Bloemfontein teruggekeer, betyds vir hul jongste kind, Sion, se vierde verjaardag.

“Die mense van Bloemfontein is so goed vir ons,” vertel Kayla. “Ek het nog nie een keer sedert ons terug is nodig gehad om aandete te kook nie.”
Sy sê Elrine Mitchell, onderwyser van Pekaboo, die kleuterskool waar Sion is, het die voortou geneem om te reël dat mense vir hulle kos bring om haar hande ‘n bietjie los te maak.

Die aand met die ongeluk in Oktober moes Dries van die plaas waar hy gewerk het en die ongeluk plaasgevind het, per lugmbulans na die hospitaal vervoer word. Daar moes ‘n noodoperasie op sy hoofslagaar gedoen word. Sy maag en milt moes uit sy ribbekas teruggeskuif word. Hy het ses gebreekte ribbes gehad en sy linkergewrig moes met penne en plate gespalk word. Hy het ook ander beserings gehad waaronder ernstige hoofbeserings.
Kayla het kort ná die ongeluk na Amerika gevlieg om vir Dries by te staan.
Die personeel in die hospitaal se intensiewesorgeenheid was wonderlik. Die tweede aand daar, toe Dries om sy lewe geveg het, het ‘n manlike verpleër saam met my gebid. Ek het vir hom gesê ek het my man nodig.
Sy vertel die verpleër het na Dries gegaan en vir hom gesê: “Jou vrou het jou nodig, buddy. Jy het twee pragtige kinders. Hulle het nodig dat jy veg.”
Kayla sê die dokters sê dit was ‘n wonderwerk dat Dries lewend by die hospitaal aangekom het. Veral die skeurtjies in sy aorta was lewensbedreigend. Hy het ook longontsteking in die hospitaal opgedoen.

Terug by die werk sê Kayla die klante by haar skoonheidsalon in Dan Pienaar is kosbaar. “Daar is van hulle wat meer betaal as wat hulle moet. Ons is so dankbaar vir die mense van Bloemfontein en die mediese personeel wat ons bystaan.”
Dries moet so gou moontlik vier weke se rehabilitasie ondergaan. “Ons wag nou om toestemming by die siekefonds te kry,” sê sy.
Verder moet Dries in Desember twee operasies ondergaan om die plate en skroewe uit sy linkergewrig te verwyder.

Die egpaar gee al die eer aan God wat vir Dries bewaar het. “Dit is ons getuienis,” sê Kayla.



You must be logged in to post a comment.