’n Groep van die DA het op 28 November die Maselspoort-watersuiweringsaanleg wat tans opgeknap word, besoek. Hier is Tjaart van der Walt by die aanleg tydens die besoek.Foto: Verskaf


Die Mangaung-metro betree soos talle ander dorpe oor Suid-Afrika heen nog ’n week met ’n ernstige watertekort.

Die DA het pas aangekondig dat dié party die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie versoek het om ’n nasionale ondersoek na die land se waterkrisis te begin.

In ’n nuusverklaring wat vanmiddag uitgereik is, sê ’n woordvoerder van die DA dié party verwag van die menseregte-organisasie om amptenare wat verantwoordelik is vir die waterkrisisse by munisipaliteite waar die probleme die grootste is, verantwoordbaar gehou word.

In dorpe en stede oor die land heen sit inwoners nou al weke lank sonder water by hul huise en ondernemings weens wanadministrasie en die tekort aan instandhouding van infrastruktuur.

Lele Mamatu, woordvoerder van Centlec het vandag kort ná 14:00 gesê dat daar nog gewerk word aan die fout by die Maselspoort-verspreidingsentrum. Mamatu sê tegnici het reeds die fout opgespoor, maar die herstelwerk neem lank.

Weens die kragonderbreking kan water nie van Maselspoort af na die noorde van Bloemfontein gepomp word nie.

Dit nadat inwoners talle inwoners in hoogliggende dele van die stad dikwels min of geen water het nie.

Dit sluit Heuwelsig, Pentagonpark, die middestad en Dan Pienaar in.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro sê die Maselspoort-aanleg se onderbreking is nie een van die beplande waterinkortings nie, maar weens ’n onvoorsiene fout.

Hy het beloof dat inwoners betyds ingelig sal word indien waterinkortings weer beplan word.

Khedama sê daar word nou gekyk na die watergehalte van dele van Mangaung wat water vanaf die Vaal Central Water kry. Dit sluit Rocklands, Fases 4, 5 en 6 in. Khedama sê die water word behandel met chemikalieë wat bakterieë en skadelike mikro-organismes doodmaak.

Hy sê mense moet water spaarsamig gebruik. Dit sluit in die volgende aktiwiteite wat beperk moet word – die was van karre, die opvul van swembaddens, die natgooi van grasperke, die gebruik van tuinslange vir die skoonmaak van plaveisel, die onttrekking van meer as 10 000 liter water vir privaatgebruik en die onttrekking van meer as 10 kl water vir berging.

Ook die suide van die stad word nie gespaar nie met pyp in die Vaal Central Waterraad wat Sondag by Pellissier gebreek het.

Die DA in Mangaung het reeds in November gewaarsku dat erge watertekorte elke jaar voor die Kersvakansie die stad en omliggende dorpe lamlê.

’n Afvaardiging van die DA het op 28 November ’n oorsigbesoek aan die Maselspoort-watersuiweringsaanleg gebring om die vordering met verbeterings daar te sien.

Volgens die komitee is minder as 1% van die R138 miljoen-begroting wat deur die nasionale departement van water begroot is, teen die eerste kwartaal van die boekjaar bestee.

Hiervan is R5,2 miljoen begroot vir klepvervangings, R12,9 miljoen vir die opgradering van die waterstelsel en R47 miljoen vir die opgradering van die Maselspoort-filtreerstelsel wat nog onaangeraak is.

Die komitee sê R65,1 miljoen wat begroot is om watertoevoer te onderhou, is nie gebruik nie en laat inwoners met ’n verouderde stelsel wat uitmekaar val.

Die DA het deelgeneem aan ’n verslag wat aan die Menseregtekommissie oorhandig is, met spesifieke verwysings na die Mangaung-metro.

Basiese probleme wat deur die Menseregtekommissie geïdentifiseer is, sluit in waterverliese van tot R488 000 daagliks weens die verouderde pype, wat oor 10 jaar ongeveer R1,8 miljard kos; die talle rioollekplekke in openbare plekke wat ook waterbronne besoedel; die gebrek aan dienslewering met talle inwoners van die metro wat nog die emmelstelsel en put-toilette moet gebruik; die gehalte van water wat agteruitgaan met vandalisme wat die ook ’n invloed het op die verskaffing van water.

Die verslag het ook gevind dat 35% van die metro se skuld verbind kan word met geld wat op water geskuld word. Dit ly daartoe dat dringende projekte nie aangepak kan word nie.

Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat, sê van die oplossings vir die metro se waterkrisis, is die aanstelling van gekwalifiseerde amptenare; die herstel van infrastruktuur; leierskap wat aanspreeklik gehou moet word; deursigtigheid wat kommunikasie en verhoudings met die gemeenskap betref; en opvoeding sodat inwoners water spaarsaam gebruik.

You need to be Logged In to leave a comment.