Bloemfonteiners durf Comrades vir The Pace Foundation aan

Talle Bloemfonteiners het vandeesweek teruggekeer nadat hulle Sondag 9 Junie aan die moordende Comrades-ultramarathon tussen Durban en Pietermaritzburg deelgeneem het.


Talle Bloemfonteiners het vandeesweek teruggekeer nadat hulle Sondag 9 Junie aan die moordende Comrades-ultramarathon tussen Durban en Pietermaritzburg deelgeneem het.

Vir sommige was hierdie ’n baie spesiale jaar.

Agt atlete van Bloemfontein het Sondag deelgeneem om geld in te samel vir The Pace Foundation. Dié stigting is deur Dewald Fourie en sy vrou, Yolandi, begin om mense wat trauma beleef, te ondersteun. Die begin van die stigting val saam met die egpaar se eie soeke na berusting nadat hul 22 maand oue dogtertjie Karla in Desember 2009 oorlede is nadat sy in ’n swembad geval het.

Dewald sê dit was vanjaar die eerste keer sedert 2019 waarop daar weer ’n op-wedloop was. “Ons wou in daardie jaar die wedloop voltooi as deel van die 10de herdenking van ons dogtertjie se dood. Ongelukkig kon ek daardie jaar nie die wedloop voltooi nie.”

Die stigting en alles wat daarop gevolg het, het eintlik begin in 2018. Nadat Dewald die Comrades op televisie gekyk het, het hy en Yolandi besluit om die wedloop aan te durf ter herdenking van Karla. In daardie stadium het Dewald 145 kg geweeg en was hy nie so fiks soos vroeër jare nie. Hy en Yolandi het vir die moordende wedloop begin oefen, maar Yolandi was voor die wedloop in 2019 in ’n motorongeluk en het die wedloop gemis, terwyl Dewald nie die afsnytyd by Polly Shortts betyds gemaak het nie.

Al het dit daardie jaar nie gewerk nie, het hulle die Comrades wel in 2022 met ’n banier van klein Karla in die hand voltooi.

Hulle het ná dié wedloop The Pace Foundation gestig wat baie ander gesinne wat trauma beleef, ondersteun het.

“Louis Massyn wat vanjaar sy 49ste Comrades voltooi het en saam met ons deelgeneem het aan The Road to Comrades, was by my toe ek Sondag by Polly Shortts kom,” vertel Dewald aangedaan. “Ek het vyf jaar gewag om hierdie punt oor te steek. Dit was vir my ’n baie spesiale oomblik. Toe ek daar verby is, het Louis vir my gesê ek gaan dit maak,” sê hy.

Hy sê hy en Yolandi het nogal ’n moeilike jaar agter die rug – Yolandi het onlangs Covid gehad en hy het gesukkel met ’n onreëlmatige hartritme. Yolandi het tot op 68 km gekom en nie vanjaar klaargemaak nie.

Hy sê hy en Yolandi het nogal ’n moeilike jaar agter die rug – Yolandi het onlangs Covid gehad en hy het gesukkel met ’n onreëlmatige hartritme. Yolandi het tot op 68 km gekom en nie vanjaar klaargemaak nie.

Nog een van die Road to Comrades-spanlede Lucie Grove wat die wedloop voltooi het, sê dit was vir haar ’n voorreg om die wedloop te doen vir The Pace Foundations. “As ’n mens so hardloop, besef jy hoeveel genade dit is om die Comrades te kan klaarmaak. Ek dink vir elkeen wat deur ’n moeilike tyd gaan, moenie opgee nie. Probeer net jou bes en hou aan. In ’n stadium kom jy by die wenstreep en jy maak klaar. Dis ’n oorwinning.”

Lucie het die wedloop gedoen in nagedagtenis van haar dogtertjie Anika wat oorlede is. “Ek het die wedloop ook gedoen vir ander mense wat verlies gely het,” sê sy.

Louis Massyn Sondag tydens sy 49ste Comrades.Foto: Versjaf

Dewald sê tydens vanjaar se wedloop was daar ’n wonderlike gees onder deelnemers en ondersteuners langs die roete.

Yolandi sê vanjaar se wedloop was baie lekker, maar dit was hard. “Ek gaan nou eers bietjie konsentreer op ander wedlope. Ek wil ook my oudste dogter Kayla help met afrigting sodat sy in 2027 die wedloop saam met ons kan doen. Baie geluk aan die hardlopers wat vanjaar klaargemaak het en almal wat dit vir The Pace Foundation gedoen het.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.