Klere en ander noodsaaklikhede kan geskenk word aan die O’Kelly-gesin van Pellissier, wie se meenthuis Dinsdag (15/08) in ’n huisbrand erg beskadig is.
Marita Herselman berig op Netwerk24 dat Hester Killian, wat saam met haar dogter Helizna Kilian-O’Kelly en haar man, Percy, in die Charius-kompleks in Jan Fiskaalstraat woon, vlamme gesien het by die veelprop-passtuk in haar kamer.
Jeanne Gerber, voorsitter van AfriForum in Pellissier, sê ’n lid van AfriForum het hulle om ongeveer 00:40 van die brand in kennis gestel.
Braam van Zyl, afdelingshoof van die metro se brand-en-reddingsdienste, sê sewe brandweerlede was binne 12 min op die toneel, en die brand is geblus.
Gerber sê daar is houers wat met die etiket “O’Kelly-brandprojek” gemerk is by die Pellissier-inkopiesentrum waar mense skenkings aan die familie kan doen.
– Lientjie Mentz