Die plaaslike musiekgroep Rock Solid bied op Vrydag 3 November ’n vertoning aan ten bate van Restor-a-Life, ’n nie-winsgewende organisasie wat vir 60 volwassenes sorg, aan.
Deon van Rooyen van Rock Solid, sê dié orkes speel moderne Christelike musiek met heerlike Rock-a-Roll-klanke.
“Dit is die musiek wat met ons gepraat het toe ons op ’n dwaalspoor beland het,” gesels hy oor die tipe musiek wat hulle maak. “Dit is meestal bekende musiek uit die hippie-era. Ons bedien mense met hierdie musiek en glo dit is toegangklik vir oud en jonk.”
Die sesstuk-orkes neem hul bediening oral in die stad en het selfs al in een van die stad se gevangenisse opgetree.
Restor-a-Life is gestig met die doel om werklose mense en minderbevoorregtes te ondersteun met huisvesting, etes en ook vaardigheidsontwikkeling en werkskepping.
Die doel is om vir hierdie mense in die gemeenskap weer ’n lewensdoel te gee.
Restor-a-Life se twee Homes of Hope in Universitas huisves 30 mense elk waar hulle daagliks etes kry.
Van die projekte wat Restor-a-Life al aangebied het, is Blankets of Hope waar komberse vir minderbevoorregtes ingesamel is en Handbags of Hope, waar vrywilligers handsakke met toiletware gevul het en dit vir behoeftige vroue uitgedeel is.
Marésa van der Walt van Restor-a-Life, sê met 3 November se Rock Solid-konsert wil hulle geld insamel om vir die Homes of Hope se inwoners ’n lekker Kersete aan te bied.
Dié huise het ook dringend ’n behoefte aan ’n bekostigbare voertuig om inwoners vir mediese dienste te vervoer.
Die vertoning begin om 19:00 in die Siloam-kerk in Westphallstraat, Universitas. Kaartjies vir die konsert kos R50. Mense wat wil bespreek of as ’n borg betrokke wil raak, kan Marésa by 072-383-7522 bel.
- Een leser staan die kans om twee kaartjies vir die konsert te wen. Like die inskrywing op Bloemnuus se Facebook-blad en skryf in die “comments” wat Restor-a-Life se twee huise heet.