Kayla en Dries Botha.

‘n Bloemfonteiner wat die afgelope seisoen op ‘n plaas in Minnesota, in Amerika werk, het Sondag 12 Oktober ernstige beserings opgedoen in ‘n ongeluk.

Gebede gaan van oral af op vir Dries Botha (32) wat dié Sondag saam met ‘n kollega in ‘n Razor-veldkar op die plaas in Crookston gery het, toe die bestuurder beheer oor die voertuig verloor en dit omgeslaan het.

Dries moes per lugambulans na Minneapolis geneem word waar hy ‘n noodoperasie aan sy hoofslagaar moes ondergaan. Sy maag en milt moes uit sy ribbekas verwyder word.

Dries en Kayla Botha met hul kinders Sion (3) en Hannah (10). FOTO’s: Verskaf

Ander beserings wat hy opgedoen het, sluit in ‘n gebreekte femur, sy linkergewrig is gebreek, hy het gesig- en neusbreke, gebreekte ribbes en ‘n geskeurde diafragma. Hy het ook ernstige hoofbeserings opgedoen.

Sy vrou, Kayla, het intussen na Amerika gevlieg om haar man in die hospitaal te gaan ondersteun.

“Dries is nog onder verdowing, maar hy het gisteraand die eerste keer my hand gedruk,” sê Kayla uit die hospitaal.

“Daar was al soveel wonderwerke sedert die ongeluk,” vertel sy. “Dit was al donker toe die ongeluk gebeur het, maar die Here se Engele was by Dries. Iemand het die Razor se ligte gesien en gaan ondersoek instel.”

Dries in die hospitaal in Amerika.

‘n Paar dae voor die ongeluk, het Dries vir Kayla ‘n dagstukkie gestuur wat hy die dag gelees het. Dit lees: U, Here is ‘n skild rondom my. U herstel my eer. U lig my kop weer op. Ek het tot die Here geroep. Vanaf sy heilige berg het Hy my geantwoord. Ek het gaan lê en slaap en weer wakker geword, want die Here het oor my wag gehou. (Psalm 3: 4-6).

Intussen het ‘n vriendin Le-Andre Myburg ‘n Back-a-Buddy-rekening vir die egpaar oopgemaak om die egpaar met groeiende uitgawes te help.

“Dries is ‘n geliefde man, pa, seun, boetie en ‘n vriend vir so baie. Hy is ‘n man met ‘n hart van goud – altyd gereed om ander te help. Hy en Kayla het twee pragtige kinders wat baie graag wil hê hul pappa moet huis toe kom en gesond wees,” skryf sy op die webblad.

Die Razor waarmee die twee Suid-Afrikaners in ‘n ongeluk was.

Le-André sê die lugambulans kos hulle $70 000 (sowat R1,2 miljoen rand) en die daaglikse rekenings vir die hospitaal en intensiewesorg, is baie duur.

“Boonop werk nie Kayla of Dries nou wat beteken dat hulle nie ‘n inkomste het nie.”

Vriende, familie en kennisse het die afgelope paar dae al sowat R145 522 ingesamel om die egpaar met hul mediese rekeninge te help.

Lees meer op die BackaBuddy-blad.

You need to be Logged In to leave a comment.