Bloemfonteinse skole lewer die room van Vrystaat se matriekuitslae

Nie net is die Vrystaat die beste provinsie in die land wat 2022 se matriekuitslae betref nie, die Motheo-distrik is die beste distrik in die land – met nog ’n Vrystaatse distrik, Fezile Dabi, in die tweede plek nasionaal.


Leerlinge aan die St. Andrew-skool wat na vanjaar se gelukwensingsgeselligheid van die Vrystaatse onderwysdepartement genooi is, is van links Lebohang Masukela (6 onderskeidings), Katleho Nhlapo (2), Joshua Horak (7), Jamie Fletcher (4) en Jack Wiltshire (4).Foto: Lientjie Mentz

Nie net is die Vrystaat die beste provinsie in die land wat 2022 se matriekuitslae betref nie, die Motheo-distrik is die beste distrik in die land – met nog ’n Vrystaatse distrik, Fezile Dabi, in die tweede plek nasionaal.

Die Vrystaat spog met ’n 88,5%-slaagsyfer.

Die topleerlinge is Vrydag op ’n geselligheid in die Boet Troskie-saal by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT), Vrystaat, in Bloemfontein aangekondig.

Emma Nel van die Eunice High School is vanjaar die algehele toppresteerder, en Torino Malik Shunga van die Hoërskool Rahola in Phuthaditjhaba is as vanjaar se beste kandidaat aangewys.

Emma het onderskeidings in Afrikaans eerste addisionele taal (97%), Engels eerste taal (90%), rekeningkunde (96%), dansstudie (96%), fisiese wetenskap (95%), lewenswetenskap (94%), lewensoriëntering (93%) en wiskunde 93%.

Joshua Horak, Volksblad, Netwerk24 en die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Matrikulant van die jaar vir 2022, is as een van die topleerlinge in die Vrystaat aangewys.

Joshua het onderskeidings in al sewe sy vakke behaal: rekeningkunde (98%), lewensoriëntering (95%), wiskunde (94%), lewenswetenskap (91%), fisiese wetenskap (91%), Afrikaans eerste addisionele taal (90%) en Engels eerste taal (85%).

Vyf van die tien Vrystaatse topskole in wiskunde is in Bloemfontein. Dié skole het almal 50 leerlinge of meer wat wiskunde neem en uitblink. Dié tien topskole ontvang elk R100 000 van die departement van onderwys.

Die topskool is die Hoër Meisieskool Oranje, tweede is die Eunice High School en derde die Hoërskool Jim Fouché. Die ander twee onder die topskole is Grey-kollege (sekondêr) en die Hoërskool Tsoseletso in Bloemanda.

Die Hoër Meisieskool Oranje is vanjaar se topskool vir wiskunde en wetenskap in die Vrystaat.

Die vakke waarin Vrystaatse leerlinge die beste in die land gevaar het, is:

  • rekeningkunde, met ’n slaagsyfer van 83,8% – die Vrystaat is die enigste provinsie met ’n slaagsyfer meer as 80%;
  • sakestudie (85,2%) – weer is die Vrystaat die enigste provinsie met ’n slaagsyfer bo 80%;
  • aardrykskunde (91,1%) – die Vrystaat is die enigste provinsie met slaagsyfer bo 90%;
  • ekonomie (79,7%);
  • Engels eerste taal (99,8%);
  • geskiedenis (93,9%); en
  • lewenswetenskap (82,8%) – die Vrystaat is die enigste provinse met slaagsyfer bo 80%.

Dr. Tate Makgoe, LUR vir onderwys in die Vrystaat, sê die klas van 2022 het werklik die meeste gely onder die Covid 19-pandemie omdat dit oor twee van dié leerlinge se belangrikste jare in hul skoolloopbaan (gr. 10 en 11) gestrek het. Leerlinge is ook deur die erge beurtkrag geteister.

Jim Fouché

Leerlinge van die Hoëskool Jim Fouché wat by die gelugwensingsgeselligheid van die departement van onderwys in die Vrystaat was, is van links, voor: Sutiné Venter (7 onderskeidings), Larindi Crafford (7), Yvé Kriel (8) en Janita van Staden (7); agter: Logan van Wyk (6), Henry-Allan van Eck (7) en Lourens van Niekerk (7).

Drie seuns van Grey-kollege (sekondêr) wat na die geselligheid genooi is, is van links Mikael van Eschwege (8 onderskeidings), Joubert Potgieter (8) en Simeon Vorster (7).Foto: Lientjie Mentz

Leerlinge aan die Hoër Meisieskool Oranje op die geselligheid is van links Annemie Grobler (8 onderskeidings), Chrismie Smith (8), Nicóle le Roux (7), Marita Oosthuizen (7) en Wilana Wolfaardt (7).Foto: Lientjie Mentz

Drie leerlinge aan die Hoërskool Sentraal wat na die geselligheid genooi is, is van links Mia Coetzee (8), Nialize Cronje (8) en Hanré Potgieter (7). Foto: Lientjie Mentz

Niël Arlow (8 onderskeidings) van die Hoërskool Fichardtpark is ook na die geselligheid genooi.Foto: Lientjie Mentz
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.