Burgert Muller (links) en John Midgley tydens hul onlangse ekspedisie in Lesotho.Foto: Verskaf


Wat noem mens ’n vlieg sonder vlerke? ’n Loop!

“Wat min mense besef is dat daar waarheid lê in die ou grappie,” vertel Burgert Muller, ’n vliegkundige van die Nasionale Museum in Bloemfontein.

Hy en John Midgley van die KwaZulu-Natal Museum in Pietermaritzburg het tydens drie navorsingsbesoeke aan Lesotho ’n baie unieke vonds gemaak.

Hulle het die wyfie van ’n tipe snipvlieg, Atherimorpha latipennis, ’n spesie waarvan tot op hede net die mannetjie bekend was, gevind. Wat dié vonds so besonders maak, is dat dit die eerste rekord in die wêreld is van vlerk-verkleining (brachyptery) in dié snipvlieë, en op die oog af lyk die vlieg amper vlerkloos.

“Die mannetjies het egter groot opsigtelike vlerke, wat hulle gebruik in hul soektogte na die wyfies, wat heel moontlik diep in graspolle en bossies sit, uit die wind en koue.”

Die twee het ’n enkele wyfievlieg en tientalle mannetjies by die winderige Afriski-bergoord gevind.

Dié wyfievlieg is onlangs in Lesotho gevind tydens ’n navorsinguitstappie deur onder andere ’n Bloemfonteinse wetenskaplike. Foto: Verskaf

Muller vertel daar was histories nog net ’n handvol ekspedisies na Lesotho, waarvan die meeste plaasgevind het tussen die 1950s en 1970s, toe Lesotho nog baie onherbergsamer en ontoegankliker was as vandag, en navorsers van daardie tyd kon slegs sekere gedeeltes bereik – dan ook net met donkies en helikopters.

Die onlangse ekspedisies na Lesotho se hooglande het deel uitgemaak van die Diversiteit van Bestuiwende Diptera in Suid-Afrikaanse Biodiversiteit-brandpunte of (DIPoDip)-projek.

Muller sê die doel van die projek is om bestuiwers in die streek te identifiseer en aan te meld.

“Lesotho bly ’n goeie bestemming vir ’n ryke vonds van nie net onbekende vlieë nie, maar van ander insekte ook.” Hy sê die insekte wat gevang is tydens die drie ekspedisies word nou uitgestuur na wêreldspesialiste vir identifikasie sodat hulle kan bydra tot die kennis van Lesotho se unieke diversiteit.

Muller vertrek Dinsdag na Fouriesburg waar hy ander vlieë gaan vang vir navorsing.

’n Mannetjie Atherimorpha latipennis met sy kenmerkende vlerke wat by die wyfie ontbreek, wat vroeër reeds in Lesotho gevind is.Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.