Die heel eerste Bloemhof Makietie vind eersdaags in dié dorp plaas ná dit as Kwêla Dorp van die Jaar vir 2025 gekroon is.

Aangebied deur kykNET, beloof hierdie daglange fees op Saterdag 1 November om die gees, gemeenskapsgevoel en plaaslike kreatiwiteit wat die dorp teen die Bloemhofdam sy nasionale titel besorg het, ten volle te laat skyn.

Besoekers kan uitsien na ‘n gesinsvriendelike dagmark, heerlike kos, lewendige musiek, kinderpretpark, talle kompetisies en ‘n aandkonsert onder die sterre.

Boonop kan hulle kykNET-akteurs ontmoet, asook die Curriebeker wat die Griekwas in die Curriebeker-eindstryd gewen het, met eie oë aanskou én van die Poubloues ontmoet.

ALSO READ: Griquas crowned Currie Cup champions for 2025: A 55-year wait ends

“Die Bloemhof Makietie is ons manier om dankie te sê aan almal wat ons dorp se reis ondersteun het,” sê organiseerder Daleen Steyn van die Rippelspan.

“Ons wil die eenheid, hart en gees wys wat Bloemhof só ‘n besonderse plek maak om in te woon en te besoek.”

Daglange program bied vermaak vir jonk en oud

By die gesinsmark met meer as ‘n 100 stalletjies word handgemaakte, plaaslike vars produkte en kunswerke te koop aangebied. Vir die innerlike sal vanaf gourmet-burgers tot tradisionele gunstelinge beskikbaar wees en ‘n verskedenheid drankies en geure vir elke smaak.

Top Suid-Afrikaanse kunstenaars en plaaslike talent tree dwarsdeur die dag op met onder meer Juanita du Plessis, Elandrè, Ryk Kleinhans, Johan Heyns en sy orkes Nagbreek, en die Neser-boereorkes.

Ses gewilde kykNET-akteurs van Suidooster, Binnelanders en Diepe Waters sal ook by die fees kuier. Ontmoet Suidooster se Dean John Smith (in die rol van Wade Daniels – Ty se broer) en Daniel Coetzee (Riaan), asook vir Antoinette Modise (Bonnie) en Izette Blignaut (Petro) van Binnelanders. Uit die Diepe Waters-ateljee kom kuier Werner Coetser (in die rol van Jacques Swarts – Gys se seun) en Marijke Coetser (Renè – Lucas se Ma).

Verskeie kompetisie vind plaas, onder meer ‘n steak-eet-, skoonheid- en talentkompetisie. Die Kwêla Makietie Golfdag begin om 10:00.

Die skoonheidskompetisie word met vyf Mev. Heelal-finaliste aangebied, en in die Mnr. en Mej. Kroon van Bloemhof-modelkompetisie kan in verskeie kategorieë deelgeneem word: drie tot vyf jaar, ses tot nege jaar, tien tot 12 jaar, 13 tot 17 jaar en 18 tot 29 jaar.

LEES OOK: Kwêla se Dorp van die Jaar: Son skyn nuut oor Bloemhof as wendorp

Die Bloemhof Makietie wil ook plaaslike toerisme aanwakker en klein besighede ondersteun. Ondernemings – groot én klein – word genooi om te wys wat hulle aan die gemeenskap bied. Dit kan gedoen word deur ‘n stalletjie, borgskap, produkdemonstrasie of ander vorm van deelname.

Besoekers word aangemoedig om die naweek in Bloemhof deur te bring, die Vaalrivier te verken en die dorp en sy inwoners te ervaar.

Plaaslike entrepreneurs, kosverkopers en borge kan registreer of saamwerk met die Makietie-span om deel te wees van hierdie viering van gemeenskap en trots, sê Steyn.

  • Die makietie vind vanaf 09:00 by die Bloemhof Gekombineerde Skool plaas, met die hoofkonsert om 18:00.
  • Kaartjies teen R80 per volwassene en R50 per kind is aanlyn by bloemhofdorpendam.co.za beskikbaar.
Credit: Daleen Steyn

You need to be Logged In to leave a comment.