Maak solank jou vier spelers bymekaar vir ‘n ontspanne rolbaldag met ‘n goeie doel.
BloemNuus bied op Vrydag 15 Augustus ‘n rolbaldag ten bate van Engo by die Bloemfontein-rolbalklub (BBC) aan.
Dit is die ideale dag vir personeel van ondernemings en skole om ‘n lekker spanbou-aktiwiteit te onderneem en so geld te help insamel vir ‘n goeie doel.
Die vorige jare het dié dag in ‘n heerlik ontspanne gees plaasgevind. Die idee is dat nuwe mense rolbal leer speel en daar is geen druk om te wen nie, hoewel pryse op die spel is.
Jeannine van Zyl, bestuurder van Novus Media Gemeenskaps-
nuus in die Vrystaat en Noord-Kaap, waaronder BloemNuus val, sê dit is lekker om op só ‘n wyse ‘n bydrae tot die gemeenskap te lewer.
“Die gemeenskap lê ons na aan die hart en ons sien uit om met die rolbaldag ‘n bydrae te lewer om die lewe van talle minderbevoorregtes aan te raak.”
Daar is plek vir 24 spanne van vier spelers elk, met elke span wat drie wedstryde van ses koppe elk sal speel.
‘n Ete en ‘n kaartjie vir Engo se Projek van Hoop is by die kaartjieprys van R1 200 ingesluit.
Ondernemings wat spanne vir die dag inskryf, sal ook hul bemarkingsmateriaal by die bane kan oprig.
Bel Gerrie de Bruin by 083 264 2742 om in te skryf.