Bloemskou betrek kunstige jeug

Bloemskou vind van 25 April tot 3 Mei plaas, met ‘n fokus op kreatiewe handwerk en kuns. Elmarie Prinsloo sê die afdeling groei jaarliks en het 2 711 inskrywings ontvang. Kinders met spesiale behoeftes se inskrywings bring ekstra hoogtepunte. Besoekers kan ‘n verskeidenheid kuns en handwerk verwag.

Die kuns- en handwerkafdeling by Bloemskou word nou beoordeel.
Die kuns- en handwerkafdeling by Bloemskou word nou beoordeel. Credit: AI Generated

Bloemskou is om die draai, en soos gewoonlik sal kinders en ander kreatiewe mense van oor die stad heen se skeppings binnekort te sien wees.

Alles word in die saal vir kreatiewe handwerk en kuns uitgestal. Bloemskou duur vanjaar van 25 April tot 3 Mei.

Elmarie Prinsloo, Bloemskou se uitvoerende hoof, sê die afdeling vir kreatiewe handwerk en kuns groei jaarliks en is die grootste in sy soort in Suid-Afrika.

Sy sê 2 711 inskrywings is ontvang, wat ongeveer 400 meer is as verlede jaar.

Kundiges in elke vorm van handwerk en kuns wat ingeskryf kon word, is geïdentifiseer om die beoordeling te doen.

Beoordeling van die kuns-inskrywings is reeds op Vrydag 4 April en Saterdag gedoen, en die ander inskrywings se beoordeling sal van Donderdag af plaasvind. Prinsloo sê die kuns-afdeling bars uit sy nate met 1 167 inskrywings.

Die afdeling vir spesiale onderwys-inskrywings bring aan kinders met spesiale behoeftes nog ‘n hoogtepunt in hul skooljaar, en hulle kan nie wag om hul skeppings op die skou vir familie en vriende te wys nie. Vanjaar is 491 inskrywings ontvang, van die Bloemfontein School of Autism, Lettie Fouché-, Janie Schneider-, Martie du Plessis-, Dr C.F. Visser- en Pholoho-skole.

Skougangers kan ‘n verskeidenheid van kuns- en handwerk op vanjaar se Bloemskou verwag: van kwiltwerk, kreatiewe breiwerk, borduurwerk en hekelwerk, tot fyngebak en handwerk, asook kinderkuns en skrif-inskrywings van verskeie skole en kunsskole van oor die Vrystaat heen.

Besoek die saal vir kreatiewe handwerk en kuns langs die Proteasaal op die Bloemskou-terrein.

Vir inligting oor vanjaar se Bloemskou, besoek bloemskou.co.za of skakel die Bloemskou kantoor in kantoor-ure by 051 448 9894.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.