Welcome to the Jungle – so groet Bloemskou-besoekers van oraloor ná twee jaar waarop dié heerlike geleentheid nie aangebied kon word nie.

Die skou bied aan besoekers meer as 50 opsies as dit kom by die keuse van lekkernye en kosstalletjies.

Kinders kan uitsien na unieke pret wat hulle net op Bloemskou kan beleef soos ’n sintetiese ysskaatsbaan, ’n pretpark met 29 ritte, die MBX- en skaatsplankvertoning en ook die FMX-motorfietswaagvertoning.

’n Hele rits kunstenaars sal soos gewoonlik tydens die verloop van die skou van 27 April tot 7 Mei optree. Dit sluit in Lollos, Snotkop, Refentse, Lizz Meiring, Early B, Dilan Lerm, Francois van Coke, Spoegwolf, Juanita en Franja du Plessis en Ruan Josh.

Aktiwiteite waarna besoekers kan gaan kyk sluit in die ovaalbaanwedrenne en die Bloem Classic-liggaamsboukompetiise, asook handwerk wat ingeskryf is vir die kompetisie. Vanjaar het dié afdeling 1 800 inskrywings ontvang.

In die Arksaal sal kinders kan kuier tussen sierduiwe, hoenders, konyne, die plaaswerf en daar is ook uitstallings van die Suid-Afrikaanse Pantserskoolmuseum en die Brandweermuseum met ’n hindernisbaan.

By die padstal kan kinders op minatuurperdjies ry, ’n skaapskeer-demonstrasie sien en sien hoe woljasse, kussings en pantoffels gemaak word.

Die swier van die skou is die nasionale saalperdkampioenskap.

Kom loer ook in by die verskillende landboukampioenskappe van skape en beeste.

Kry die volledige program op die webwerf bloemskou.co.za. 

You need to be Logged In to leave a comment.