Bloemskou is om die draai, en die publiek het nog tyd tot 24 April om van spesiale korting op tariewe gebruik te maak.
Mense kan sommer nou reeds besluit op watter dae hulle vanjaar se Bloemskou, wat van 25 April tot 4 Mei aangebied word, gaan besoek.
Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, sê besoekers kan hulle gereed maak vir tien dae waarin daar ’n groot verskeidenheid aktiwiteite, gehalte-uitstallers, ’n rekordgetal landbou-aktiwiteite, topvermaak en ’n opwindende pretpark sal wees – alles om lekker saam te kuier.
Kaartjieverkope vir die skou is reeds oop, met spesiale aanbiedinge wat ook deel van vanjaar se verjaardagviering is.
Besoekers wat kaartjies van nou tot 24 April om 17:00 koop, kwalifiseer vir spesiale korting. Dit sluit R10-korting op toegangskaartjies in.
Die halfprysdag is uitgesluit. Onthou, toegang na Bloemskou gee gratis toegang tot die optrede van vermaakkunstenaars by Bloemskou.
Vir R600 ontvang besoekers 48 pretmunte, in plaas van die normale 24. Die oorspronklike Computicket-kaartjie kan by die pretparkkantoor ingeruil word vir die pretmunte en is geldig vir enige dag van die skou.
Daar is ook R50 afslag op onbeperkte pretparkritte. Die normale prys is R300, maar vir vooraf aankope tot 24 April, is dit slegs R250.
Die aanbieding is op 29 April en 2 Mei, en ritte is oop tot 21:00 op dié dae. Die oorspronklike Computicket-kaartjie word by die pretparkkantoor ingeruil word vir ’n armband-bewys op die dag.
Vir pretpark-kaartjies moet die bewys van betaling na ’n Computicket-verkooppunt of na die Bloemskou-kantoor geneem word om die fisieke kaartjies te kry.
- Hou BloemNuus dop vir meer inligting oor kompetisies vir die kinders waarin Bloemskou-kaartjies op die spel is.