Die pret gaan net nie ophou nie wanneer Bloemskou van Donderdag (27/04) tot Saterdag 6 Mei sy 140ste verjaardag vier nie. Begin die langnaweek sommer vanjaar by die skou waar daar hope vermaak vir oud en jonk sal wees.
Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, sê vanjaar se binne-uitstallings trek ’n heel nuwe baadjie aan. “Met ’n nuwe uitleg en verskillende fokusgedeeltes per saal, is die inkopie-ervaring vanjaar verrassend anders,” sê sy oor vanjaar se skou.
Die afdelings in sale sluit in, huisdekor en meubels, eko-vriendelike produkte, tuine, sonkrag- en waterstelsels, buitelug en kampering, klere, skoene, bykomstighede en skoonheid, ’n F1-simulator ’n rekenaarspeletjie-arkade, tegnologie, eletronika en selfone, produkte en dienste vir babas tot student en die gesondheids- en leefstylsaal. Die fokus vir vanjaar se uitstallings is op gehalte en verskeidenheid.
Die F1-simulator is aan die voorkant van die Tulipsaal te sien. Hier kan jy die werklike ervaring van ’n Formule 1-wedren ervaar teen slegs R150 vir 5 minute en R250 vir 10 minute.
Die pretpark is altyd ’n hoogtepunt. Vanjaar bring Bloemskou 29 opwindende ritte na Bloemskou. Daar is ook talle speletjies en eetgoed. Die pretpark open daagliks 10:00 en sluit ’n halfuur voor die skou sluit. Speelmunte is teen R25 elk beskikbaar en ritte gebruik tussen 1-5 munte per rit. Verdubbel jou munte as jy die pakket voor 17:00 op 26 April koop. Betaal slegs R600 vir 48 speelmunte (24 ekstra). Onbeperkte ritte is op 2 en 4 Mei tot 21:00 vir slegs R300 beskikbaar. Kaartjieverkope sluit elke dag om 19:00. Kry R50-afslag as jy die kaartjie voor 17:00 op 26 April koop.
Die suiwelprodukskou is die enigste in Suid-Afrika wat deel is van ’n landbouskou. Beoordeling het reeds plaasgevind. Daar was 289 inskrywings vanjaar.
Die kreatiewe handwerk, kuns en gebak-afdeling is die grootste in Suid-Afrika met 2 065 inskrywings.
Wenners word tydens Bloemskou aangewys in verskeie afdelings, wat kuns, gebak, borduur, brei, kwiltwerk en vele meer insluit. Besoek gerus die kreatiewe handwerk en kunssaal reg langs die Proteasaal by Bloemskou. Hierdie is voorwaar ’n vertoonvenster van gehalte en talent.
Die plaaswerfsaal is elke jaar ’n hoogtepunt, veral vir die kinders. Die saal het vanjaar uitstallings van pluimvee en sierduiwe. Die Mangaung-brandweermuseum, mesmakersklub en Pantserskool-museum stal weer vanjaar uit. Daar is ook ’n kwekery en plaasdiere wat vertoon word. Met sitplek in die saal, is dit ’n goeie plek om ’n ruskans te vat, terwyl die kinders die diere en uitstallings besigtig.
- Kry jou Bloemnuus op Donderdag 20 April vir ’n Bloemskou-inkleurkompetisie vir kinders van gr. 1 tot gr. 3. Een mooi prentjie sal uit die inskrywings gekies word en vir sy of haar familie vier skoukaartjies (twee vir volwassenes en twee vir kinders 6 tot 18 jaar) wen.