Kase en ander melkprodukte word volgende week as deel van Bloemskou se aktiwiteite beoordeel.Foto: Unsplash


Bloemskou word vanjaar van 25 April tot 4 Mei aangebied, en die eerste aktiwiteite met die oog op die skou het nou reeds begin.

Bloemskou is die enigste skou in die land wat nog ’n suiwelproduk-kompetisie aanbied.

Inskrywings vir vanjaar se kompetisie het op Vrydag 23 Februarie gesluit.

Vir die 2023-kompetisie is 289 inskrywings gedoen, van produkte van 16 vervaardigers van oor die land heen.

Elmarie Prinsloo, uitvoerende hoof van Bloemskou, sê vanjaar se inskrywings het alle verwagtinge oortref.

“Ons het ’n ongelooflike 381 inskrywings van 19 vervaardigers ontvang. Deelname het met 35% gestyg.”

Deelnemers kon in 17 klasse deelgeneem, onder meer vir botter, Goudakaas, Cheddarkaas, spesiale- en eksotiese kase, ’n groot verskeidenheid melkprodukte, en bok- en skaapmelkprodukte.

Vervaardigers sluit in van die grootste kommersiële vervaardigers, tot ook die kleiner, private vervaardigers.

Die vlak en proses van beoordeling is van die beste in die land en inskrywings word só verpak dat die beoordelaars nie weet aan wie ’n produk behoort nie.

Die 20 beoordelaars van oor die land heen sal op Woensdag 6 Maart van 09:00 af die produkte by die Paviljoensaal beoordeel.

Uitslae sal op 10 April op die prysuitdelingsgeselligheid bekend gemaak word, en besoekers sal tydens Bloemskou kan gaan kyk wie die wenners is.

Die beoordelaars is almal baie bekwaam en sluit in kenners van die departement van landbou, kenners met meer as 30 jaar se ondervinding in die bedryf, asook ’n paar gesoute sjefs van die Suid-Afrikaanse Sjefvereniging.

Vir meer inligting rakende Bloemskou, besoek bloemskou.co.za, of maak kontak met die kantoor deur 051-448-9894 in kantoor-ure te skakel.

You need to be Logged In to leave a comment.