Petro Jordaan met haar pryswenner-produkte en die trofee wat sy in Bloemskou se Kreatiewe Handwerk-afdeling gewen het.Foto: Lientjie Mentz


Net ’n bietjie meer as ’n jaar nadat Petro Jordaan haar hand die eerste keer aan gebottelde produkte gewaag het, stap sy sommer weg met twee groot pryse asook al haar inskrywings wat pryse op Bloemskou se Kreatiewe Handwerk-afdeling gewen het.

Bloemskou het Saterdag (06/05) ten einde geloop.

Petro het verlede jaar begin om groente in haar tuin op die hoewe in Roodewal te gebruik vir konfyt en ander gebottelde produkte.

Kort daarna het Hennie van Zyl, ’n gereelde uitstaller op die Langenhovenpark-mark, haar genooi om saam met hom by sy kunsstalletjie haar gebottelde produkte uit te stal.

“Ek het verlede jaar op 28 Februarie die eerste keer uitgestal en ek kan nie glo hoe goed die bottels verkoop nie,” vertel sy.

“Ek dink ek was seker ’n heks in my vorige lewe, want ek is mal daaroor om voor die potte te staan en kook,” spot sy.

Sy koop verskillende soorte groente en vrugte en maak haar eie skeppings soos Cowboy Candy – ingelegte jalapeño’s. Een van die gewilde kenmerke van haar stalletjie by die Saterdag-mark, is die inspirasiebord met sy sêding van die week.

Benewens die gebottelde lekkertes, maak sy ook ’n voorslag-melktert in ’n blikbord wat Saterdae soos soetkoek verkoop.

Petro vertel Marie Frylinck van Bloemskou se Kreatiewe Handwerk-afdeling het haar een Saterdag ’n inskryfvorm in die hand gestop en haar aangemoedig om vir Bloemskou in te skryf.

“Ek het nog nooit so iets gedoen nie en nie geweet of my produkte goed genoeg sou wees nie.”

Met die beoordeling het sy die Dolores Laubscher-trofee vir die meeste punte in die ope-afdeling asook ’n spesiale prys vir haar knoffelpiekel gewen. Ook haar appelkooskonfyt, kweperjellie en suurlemoenmarmelade het eerste plekke gewen en haar ‘kammatan’ en ontbytjellie het albei tweede plekke gewen.

Nou kan besoekers aan die Langenhovenpark-mark self Saterdae van dié pryswenner-botteltjies koop en proe hoe dié kampioene smaak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article