Bloemwater sê geen Dag Zero vir Bloemfontein

Opknapping aan waterinfrastruktuur aan die Welbedachtdam-waterpypleiding na Bloemfontein en by die Maselspoort-watersuiweringsaanleg van honderdmiljoene rande elk, Vrystaatse damme wat nou gemiddeld 97% vol is en waterbeperkings in Mangaung.


Opknapping aan waterinfrastruktuur aan die Welbedachtdam-waterpypleiding na Bloemfontein en by die Maselspoort-watersuiweringsaanleg van honderdmiljoene rande elk, Vrystaatse damme wat nou gemiddeld 97% vol is en waterbeperkings in Mangaung.

Dit is drie van die redes waarom ’n Dag Zero Bloemfontein se inwoners nóg nie in die gesig staar soos in Gqeberha nie.

So sê Rossouw Botes, DA-raadslid van die Mangaung-metro, oor die haglike toe- stande wat in Gqeberha heers.

Botes het Vrydag (17/06) saam met Werner Horn, DA-LP en DA-voorsitter in die Vrystaat, ’n toesigbesoek aan die derde waterpypleiding van meer as R450 miljoen van die Leeuwkop-pomp­stasie na die Brandkop-reservoir in Pellissier in Bloemfontein gebring. Hy sê die derde waterpypleiding oor ’n afstand van 33,7 km is 93% voltooi en dit gaan help dat meer water bedags vanuit die Welbedachtdam na Bloemfontein gepomp sal kan word.

Daar is R237 miljoen begroot om die watersuiweringsinfrastruktuur by die Maselspoort-watersuiweringsaanleg op te knap, waarvan R36 miljoen in die 2022-’23-boekjaar bestee sal word.

“Die Maselspoort-watersuiweringsaanleg is ontwerp om 110 megaliter water per dag aan Bloemfontein se noorde te lewer, maar lewer nou net 40 tot 45 megaliter per dag,” sê Botes.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement van water en sanitasie, sê die gemiddelde damvlakke in die Vrystaat staan nou op 97% en voldoende beplanning vir die metro vir toekomstige lewering moet gedoen word. Oor die bou van die Gariepdam-pypleiding na die Welbedachtdam by Bloemfontein, waarop reeds R54 miljoen op ondersoeke en haalbaarheidstudies bestee is, sê hy dat hy onlangs vrae hieroor op die Suid-Afrikaanse plaaslike owerheidsvereniging (Salga) se beraad gevra het.

“Die ANC hou steeds vol dat voortgegaan word met die projek, maar niemand weet wanneer die pypleiding gebou word nie.”

Botes sê dit is waar dat R1,154 miljard se skoon drinkwater oor vyf jaar in Mangaung weggeloop het. “Waterlekke sal dringend reggemaak moet word om te keer dat Bloemfontein ook sy Dag Zero­ bereik. Dit is verkeerd dat drie spanne wat waterlekke herstel net een bakkie het om te deel.”

Oor die waterbeperkings wat Mangaung op 4 Julie 2015 ingestel het en wat steeds geld, sê hy “dit is ook ’n manier om te keer dat die metro Dag Zero bereik”.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.