
Die rondloperbobbejaan waaroor daar vir maande in Bloemfontein geklets is, is eindelik aangekeer. Hier dut hy nadat hy met ’n doofmiddel aan die slaap gemaak is.
Verskaf
’n Groot bobbejaan wat sowat vier maande lank by inwoners in Bloemfontein se noordelike woonbuurte vir oggendkoffie ingeloer het, het sy rieme styfgeloop toe hy eindelik gevang en na ’n natuurreservaat geskuif is.
Die rondloperkees wat graag verskyn en verdwyn het, is Maandag (01/03) eindelik vasgetrek. Cara Taljaard (18) van Bloemfontein het die bobbejaan onder haar ma se geparkeerde motor by die Liberty-gebou by Grey-kollege gewaar.
Dr. Pierre Nel, veearts van die Vrystaatse departement van omgewingsake, sê hy kon die bobbejaan uiteindelik Maandag vang. Hy het hom met ’n pyl verdoof naby die Liberty-gebou waarheen hy ontbied is.
Nel sê die bobbejaan het taamlik rondgeswerf.
“Hy is Saterdag op Naval Hill gesien, Sondag by die Hoërskool Sentraal en in Genl. Hertzogstraat in Dan Pienaar en Maandag by die Liberty-gebou naby Grey, waar hy toe aangekeer is.”
Nel sê dit lyk nie vir hom asof dit ’n troeteldier was nie. Die bobbejaan is geskandeer, maar hy het nie ’n mikroskyfie in sy lyf nie.
“Die bobbejaan was ook half sku vir mense. As hy op huise se dakke geklouter het en mense het hom gewaar, het hy vinnig wegbeweeg.”
Nel vermoed die bobbejaan kon dalk van die trop in die Glen-omgewing buite Bloemfontein weggebreek het waar bobbejane aangehou word.
“Ons het die bobbejaan nou in die Tussen-die-Riviere-natuurreservaat naby Bethulie in die Suid-Vrystaat gaan aflaai waar daar ook ander bobbejane is.”