Boek bind lewe se flenters saam

Almal beleef trauma op die een of ander manier – soms hou hierdie trauma jou weg van dit wat jy moet wees, of jou “destiny”.


Almal beleef trauma op die een of ander manier – soms hou hierdie trauma jou weg van dit wat jy moet wees, of jou “destiny”.

Só gesels Johannes Wolfaardt, wat op Donderdag 25 April ’n boek oor sy lewe, Struggling Stains, bekend stel.

Johannes het ’n swaar lewe gehad, en sy lewe het baie draaie gemaak tot waar hy vandag is: gelukkig getroud met die liefde van sy lewe, Annelle.

Eintlik moes hy nooit gebore gewees het nie, sê hy.

Hy het eers later in sy lewe by sy ma gehoor dat hy deel was van ’n drieling, maar dat sy ouers dit aanvanklik nie geweet het nie. Hy sê sy pa het sy ma gedwing om ’n aborsie te hê.

“Toe hulle uitvind daar is nog ’n kind, moes sy nog ’n aborsie kry. Daarna is ek gebore.”

Sy pa het in ’n myn in Virginia gewerk, en volgens Johannes was sy pa baie manipulerend en het hy sy ma mishandel.

Dit was dus nie verbasend toe sy ma ’n paar jaar later uit die huis gevlug het nie.

Johannes, wat toe net twee jaar oud was, het by sy pa en broer agtergebly.

Die volgende paar jaar het hy baie slegte dinge beleef.

Toe hy ses jaar oud word, is hy uit sy pa se sorg verwyder en na ’n plek van veiligheid geneem.

“Tussen die ouderdom van sewe en tien jaar het ek in 23 verskillende plekke gebly en was ek in 24 verskillende skole.”

Hy het later in die Reddersburg-kinderhuis gewoon, totdat hy 18 jaar oud geword het.

“Ek het op tien jaar oud begin rook, op 16 dagga gerook; en baie dinge gedoen waarop ek nie trots is nie.”

Ná skool het hy as klerk of as skrynwerker gewerk. In 2008 het hy ses maande lank in Bloemfontien op straat gewoon.

“Ek het in asblikke gekrap en het as karwag gewerk. Ek weet hoe dit voel om onder ’n brug te slaap.”

Hy sê ’n vriend het hom in 2009 aangemoedig om ’n dagboek van sy lewe te hou.

“In hierdie tyd het ek 36 keer probeer selfdood pleeg. Alles was vir my net te veel. Ek het aan erge depressie gelei.”

Die draaipunt in sy lewe het gekom toe hy ’n spesiale familie ontmoet het wat hulle oor hom ontferm het. Hy het ook vir Annelle ontmoet en die paartjie is in 2022 getroud.

“Nadat ek haar ontmoet het, het ek besef ek moet myself en ander vergewe.”

Ongeag baie terugslae van ongelukke waarin hy ernstige beserings opgedoen het, het hy besef dit is in sy eie hande om nuut oor die lewe te dink.

“Ek het my gedagtes neergeskryf. Dit was baie terapeuties om te skryf. In ’n stadium was my manuskrip 500 000 woorde lank – ’n ware mengelslaai van my gedagtes. Ek het gehuil en geskreeu. Ek het alles wat negatief was uit my lewe probeer gekry.

“Nou wil ek help. Ek wil met mense praat en help as ek kan. Almal het iewers ondersteuning nodig. Ek glo my storie kan ander help.”

Die boekbekendstelling van Struggling Stains is Donderdag om 10:00 by House of Bread.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.