’n Sakeman wat in 2020 deur diep waters gegaan het en verlede jaar “toevallig” in Bloemfontein geland het, het groot lof vir dié stad.
Johannes de Villiers, wat voorheen drie inspirerende boeke geskryf het, het nadat hy sy sake-ondernemings in Stellenbosch weens Covid-19-inperkings moes sluit, besluit om sy en ander mense se seerkryverhale in ’n boek neer te pen.
Zarine Roodt het op Donderdag 12 Mei met Johannes gesels tydens die bekendstelling van die boek Meer as jou seerkry by die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln).
Sy het vir Johannes gevra hoe dit gekom het dat soveel mense uit Bloemfontein wegtrek en hy hierheen trek.
Hy sê mense van elders het baie menings oor Bloemfontein, “maar die plek het my oorrompel.”
Hy sê mense het hom in stilte en deernis hier kom vashou.
“Dit is opvallend om te sien hoe plaaslike talent hier ondersteun word.”
Hy sê Meer as jou Seerkry is nie ’n boek met antwoorde nie. “Trauma beteken vir verskillende mense verskillende goed. Daar is nie maklike of universele antwoorde nie.”
Johannes sê die een ding wat daar altyd is, is hoop – al voel dit nie so in jou diepste, donker tye nie.
“Mense soek nie antwoorde as hulle jou van hul probleme vertel nie. Hulle soek net iemand wat kan hoor en saam met hulle kan huil.”
Hy sê sommige dae voel hy nog soos ’n “wrak”.
“Die skryf van die boek het nie ’n punt gesit ná die groeiproses nie. Wat ek besef het, is dat ’n mens nie heel hoef te wees nie. Dit is soms oukei om nie ’n doel te hê nie.”
Die terapie wat hy deur die boek gekry het, het eindelik heel anders uitgedraai as wat hy gedink het.
“ ’n Mens is nooit klaar met jou verlede nie, dit is deel van jou en sit in jou.”
In die boek vertel Johannes die stories van verskillende mense se trauma. Sy bevinding is dat groei nie is om veerkragtig terug te bons nadat dinge verkeerd geloop het nie.
- “Jy sal nooit weer dieselfde mens wees as voor die verlies of ramp nie, maar jy kan dit oorleef en selfs sterker wees.” Johannes is ook die skrywer van Die einde van die wêreld: En hoe om dit te oorleef (2012), Kalmte in die malle gejaag (2018) en Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewe (2020).
Meer as jou seerkry: Groei as jy stukkend is word deur Tafelberg uitgegee.