Op die oog af kom dit voor asof ’n woordeboek vir wiskunde oorbodig is – maar een blik in dié stewige boek van 386 bladsye, en selfs ’n leek kan die waarde daarvan sien.

Willie de Klerk, oud-onderwyser van die Laerskool Jim Fouché in Bloemfontein, het die behoefte raakgesien om ’n woordelys saam te stel om leerlinge en onderwysers met wiskundige terme te help.

Hy het met die Bloemfonteiner dr. Anelize van Biljon saamgewerk en gou besef dat ’n baie meer volledige woordeboek saamgestel moet word.

Die tweede uitgawe van die Wiskundewoordeboek vir Skole wat volledig in Engels en Afrikaans uitgegee is, is in Februarie voltooi.

“Aan die einde van ’n skooljaar moet kinders hul handboeke teruggee. In die volgende jaar het hulle dikwels nie die vorige graad se boeke waarna hulle kan terugverwys nie,” sê Van Biljon.

“Die wiskundewoordeboek bied dus een bron waar leerlinge wiskundeterme kan gaan opsoek.”

Sy sê die dubbelmedium-woordeboek is ’n fantastiese naslaanbron vir gr. 4- tot gr. 10-leerlinge, maar ook vir wiskunde-onderwysers.

Elke term word volledig bespreek, maar die boek bevat ook sketse wat leerlinge gaan help om wiskunde in die algemeen beter te verstaan.

Van Biljon, wat ’n jarelange liefde vir wiskunde het en uitblinker-wiskundeleerlinge help om vir nasionale en internasionale olimpiades voor te berei, sê geen volledige gids is in Suid-Afrika beskikbaar nie.

“Terme wat in ander lande gebruik word, verskil dikwels heeltemal van Suid-Afrikaanse terme. Dit skep baie verwarring. Hierdie woordeboek vergemaklik leerlinge se begrip van wiskunde.”

Sy sê die boek is iets tussen ’n woordeboek en ’n ensiklopedie.

Volgens De Klerk was die saamstel van die boek ’n reuse-taak, veral omdat hulle besluit het om dit in Afrikaans én Engels te doen.

“Die boek is ideaal vir onderwysers wat nie noodwendig ’n deeglike wiskunde-agtergrond het nie, maar wiskunde as vak moet aanbied.”

Hoewel hulle ernstig daaroor is dat wiskunde nie ’n leervak is nie, maar ’n verstaanvak, beklemtoon hulle dat almal ’n basiese kennis van wiskundige terme moet hê.

“Jy moet eers weet wat ’n beginsel genoem word en hoe dit werk voordat jy dit prakties kan toepas,” sê De Klerk.

Van Biljon se seun, Hannes, het al die sketse vir die boek gedoen.

Hy ontwikkel ook ’n e-publikasie van die boek.

“Dit is glad nie so eenvoudig soos wat dit klink nie,” sê hy.

“Alles moet aangepas word vir só ’n publikasie.”

Hy sê hy hoop om die e-publikasie in April of Mei te voltooi.

  • Die gebinde boek is teen R200 beskikbaar.

Belangstellendes kan wiskwoordeboek.co.za besoek of ’n e-pos na navrae@wiskwoordeboek.­co.za stuur om ’n bestelling te plaas.

You need to be Logged In to leave a comment.