Wanneer ’n reis maklik is, is daar nie altyd ’n storie om te vertel nie.
Uit Zarine Roodt se uitdagende tog om die Camino Portugués te stap, is ’n unieke boek gebore. Dit is ’n lekker reisverhaal, maar beslis veel meer.
Op ’n intieme geselligheid met genooides Vrydag (17/06) in die stad, het sy met gaste ’n informele gesprek oor haar nuutste boek, ’n Dagreis ver, gevoer.
Sy sê sy verkies dit só – om in klein groepies om die boek te kuier. Haar eerste bekendstelling was in Stellenbosch.
Op die bespreking in Bloemfontein het Zarine vertel hoe sy ná die staptog moes voortgaan met ’n reis na binne.
Francois Smith het haar met die manuskripontwikkeling gehelp.
“Hy druk jou om jou bes te gee. Om elke tema ten volle te ontwikkel,” sê sy.
In ’n Dagreis verskryf Zarine oor drome, haar besluit om die Camino Portugués te stap om ’n mylpaal te vier en hoe dit die begin was van ’n besonderse pad wat sy moet volg.
Haar eerste memoire was enkelreis, wat in 2014 verskyn het.
’n Dagreis ver
word deur Naledi uitgegee.
- Een leser staan die kans om ’n Dagreis ver te wen. Besoek Bloemnuusse Facebook-blad om jou in te skryf.