Dr. Jaco Deacon en Juané van der Merwe by die bekendstelling van die boek School Governance II: More issues and practical advice.Foto: Verskaf


’n Nuwe boek, waarvan Bloemfonteiner dr. Jaco Deacon die mede-skrywer is, gaan skoolbeheerliggame help met praktiese wenke.

Skole soek nie definisies nie, hulle soek raad. Dit is die goue draad wat al die aktiwiteite rig van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Fedsas se verbintenis tot praktiese steun aan veral skoolbeheerliggaamlede, maar ook ander rolspelers in die onderwys, is opnuut bevestig met die publikasie van School Governance II: More issues and practical advice.

Die Afrikaanse weergawe, Skoolbeheer II: Nog uitdagings en praktiese raad, sal in Oktober op die rakke wees.

Dié boek is die vyfde in ’n reeks wat spesifiek fokus op kwessies waarmee skoolbeheerliggame en skole daagliks te doen kry.

Deacon, Fedsas se uitvoerende hoof en adjunkhoof van dié organisasie, Juané van der Merwe het saamgewerk om die boek moontlik te maak. Juta is die uitgewer van die reeks. Die vorige boeke het gefokus op onder meer rigtinggewende hofsake in onderwys, finansiële bestuur in openbare skole en menslike hulpbronbestuur in openbare skole. Die eerste boek in die reeks was in vraag-en-antwoord-formaat met werklike probleme by werklike skole.

“Hierdie nuwe boek is ’n voortsetting van die benadering in die eerste boek. In die nuwe publikasie behandel ons 180 brandpuntvrae wat wissel van skooldissipline en opvoeders tot koshuise en die werksaamhede van die beheerliggaam,” sê Deacon.

Deacon sê die boek is ook ’n uitvloeisel van Fedsas se fokus op die professionele ontwikkeling van personeel.

“Elke week moet ons personeel oplossings voorstel vir ’n probleem waarmee ’n skoolgemeenskap worstel. Die antwoord word in die daaropvolgende week se interne nuusbrief bespreek. Sodoende bly personeel op hoogte van die vertolking van wetgewing en kry ook die geleentheid om te leer uit ander se ervaring.”

Deacon, ’n gevestigde skrywer met talle publikasies op sy kerfstok, is vol lof vir Van der Merwe se bydrae.

“Juané het haar die afgelope byna tien jaar gevestig as een van die voorste kenners van onderwysreg. Sy is ook die hoof van Fedsas se regsdienste en was in baie gevalle die eerste persoon waarmee lede kontak gemaak het oor die probleme waarmee hulle te kampe het.”

Van der Merwe sê op haar beurt as skrywer was hul benadering om die inhoud aan te bied op dieselfde praktiese, toeganklike wyse waarop die werklike gevalle hanteer is.

“Ons werk met mense, nie met probleme nie. Met die regte inligting en die nodige leiding los Fedsas-lede self probleme op, of voorkom dit.”

Deacon sê die boek is gemik op ’n groter gehoor as net beheerliggaamlede. “Suid-Afrika se onderwysstelsel kan net suksesvol wees as soveel moontlik kundige rolspelers betrokke is. Die boek is daarom ook gemik op amptenare, opvoeders en enige ander persoon wat op een of ander wyse by onderwys betrokke is. Fedsas was nog altyd oop vir die deel van kundigheid en ervaring en die boek is ’n voortsetting daarvan.

Die boek is verlede week bekend gestel by die kongres van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg in Kaapstad, waar akademici, regslui en onderwyskenners byeengekom het om oplossings te vind vir uitdagings.

You need to be Logged In to leave a comment.