Martin Schwella en Robert Ebersohn met die boek Tommix speel Rugby.Foto: Linkie Bessinger


Die oud-Cheetah-speler Robert Ebersohn het ’n kinderboek bekend gestel om die jongspan van rugby en die spel se reëls te leer.

Tommix speel rugby handel oor ’n beertjie wat baie van rugby hou en kinders graag daarvan wil leer.

Die kinderboek is die eerste uit Ebersohn se pen en hy het die projek saam die kunstenaar Martin Schwella aangepak.

Met sy twee kinders, ’n seun en ’n dogter, wat aan sport begin deelneem het, het Ebersohn ’n boek gesoek wat rugbyreëls op ’n “kindervriendelike” manier oordra. Hy kon egter nêrens só ’n boek kry nie, toe skryf hy maar self een.

Die afgelope twee jaar het hy tyd langs die bulletjie-rugbyveld deurgebring en heelwat waarnemings gemaak.

“Die seuns is nog baie klein, maar hulle het baie passie. Al is die spel maar eintlik ’n getjommel, voel daardie kinders in hul hart hulle is lief vir rugby en wil net jol.”

Op daardie ouderdom verstaan hulle nog nie noodwendig die reëls nie, sê Ebersohn.

“Op daardie ouderdom fokus hulle meer op die ontwikkeling van lewensvaardighede en lewenslesse, troos en gee drukkies wanneer die maatjies seerkry. Dit is baie belangrik vir die kinders.”

Ebersohn hoop dat die boek ouers en onderwysers kan help om op ’n kleurvolle en interaktiewe manier die reëls van rugby aan alle kinders, deelnemers en toeskouers te leer.

Hy sê hoewel Suid-Afrikaanse kinders van jongs af ’n passie vir rugby het, verstaan en besef hulle nie aldag dat daar spesifieke reëls in die spel is nie. Die passie was veral vir hom op sy Cheetah-tuisveld in die laaste jare van sy rugbyloopbaan opsigtelik wanneer hy gesien het hoe kinders voor en ná ’n wedstryd langs die veld met die rugbybal speel.

Omdat die boek spesifiek vir kinders tot sewe jaar oud geskryf is, het Ebersohn en Schwella gedink ’n beertjie is die gepaste karakter. Volgens Ebersohn fokus die boek daarop om die “wat” van rugby (hoe dit werk), die “hoekom” (hoekom mense die spel speel), en die “hoe” (die reëls van die spel) verstaanbaar te maak.

Schwella sê dit was vir hom ’n maklike ja om by die projek betrokke te raak.

“Dit was ’n lekker avontuur om dit wat Robert van rugby weet en wat hy die kinders wil leer in hierdie boekewêreld te kon vasvang,” sê hy.

Schwella het ook die boek by drie van sy vier kinders getoets.

“Ek het ’n agtjarige, ’n vyfjarige, ’n driejarige en ’n vyf maande oue baba, so ek kan sê ek het ’n goeie verspreiding van ons teikenmark,” skerts Schwella.

“Hulle het dit almal baie geniet. My meisiekind wat vyf is, het self nou rugbykennis opgedoen en verstaan die spel nou beter. Ons hoop dat die boek dieselfde vir ander kinders landwyd kan beteken,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.