Dr. Vicky Heunis met die boekKrygsgevangenekuns in die Anglo-Boereoorlog.Foto: Lientjie Mentz


Studie vir doktorale navorsing het gelei tot ’n besonderse koffietafelboek oor kunswerke wat krygsgevangenes tydens die Anglo-Boereoorlog (ABO) gemaak het.

Dr. Vicky Heunis, versamelingsbestuurder aan die Oorlogs­museum van die Boere­republieke, se boek, Krygsgevangenekuns in die Anglo-Boereoorlog, is Saterdag (01/10) by die museum bekend gestel.

Dr. Johan van Zÿl van die museum het die gesprek gelei.

Heunis sê die boek bied ’n vergelykende studie tussen die kunswerke wat deur die mans in die verskillende krygsgevangenekampe gemaak is.

Sy sê daar is baie publikasies oor die ABO, maar min wat handel oor die kunsvoorwerpe wat die gevangenes gemaak het.

In die boek bespreek sy die kunswerke wat in vier kampe in Suid-Afrika gemaak is: by Groenpunt, Bellevue in Simonstad, Umbilo in Durban en Tin Town in Ladysmith.

Daar is ook meer oor die ornamente en gebruiksartikels wat gevangenes op St. Helena en Ceylon, in Indië en in Bermuda gemaak het.

“Mense moet onthou dat die gevangenes Boerekrygers was wat daaraan gewoond was om met hul hande te werk,” sê Heunis.

“Dit is dus nie vreemd dat hulle uit verveeldheid allerlei artikels gemaak het nie.”

Sy sê nog ’n rede waarom baie van die 28 000 krygsgevangenes kunsartikels gemaak het, is om ’n inkomste te verdien.

“Hulle het van hul artikels aan die Britse soldate of inwoners in dorpe naby die kamp verkoop. Daar was ook ’n mark vir die artikels in die buiteland.”

Sy sê baie van die artikels is as liefdesgeskenke vir ’n vrou of dogter gemaak en dra daarom dikwels persoonlike inskripsies.

“Die naam op ’n artikel dui egter nie altyd die maker van die artikel aan nie. Namate tyd gevorder het en die gevangenes meer toerusting bekom het, het daar dikwels ’n produksielyn ontstaan, met verskillende mense wat saam aan ’n artikel gewerk het.

“Die naam kan dus bloot wees van iemand verantwoordelik vir die artikel, of die laaste een wat die afronding gedoen het.”

Heunis sê die artikels wat gemaak is, het afgehang van die materiaal wat tot hul beskikking was – soos ebbehout in Ceylon, leiklip, verskillende houtsoorte in Suid-Afrika en sederthout in Bermuda, asook ivoor, klip en hout in Indië.

“Van die gewilde geskenke wat hulle gemaak het, is borsspelde – meestal het hulle gebruiksartikels soos kissies, servetringe en kieries gemaak.”

Heunis se navorsing het haar na talle museums oor Suid-Afrika heen, en tot in Engeland na ’n private versamelaar, geneem.

Van die besonderse versamelaarsartikels wat sy in haar navorsing opgespoor het, is ’n unieke skaakbord wat op St. Helena gemaak is, wat deur ’n brief van herkoms vergesel word.

Navorsing vir die boek het haar ongeveer vyf jaar geneem en sy kon die boek uitgee met die geldelike steun van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Die boek word deur Protea-boekhuis uitgegee.

  • Een leser staan die kans om dié besonderse koffietafelboek te wen. Besoek Bloemnuusse Facebook-blad om in te skryf.

You need to be Logged In to leave a comment.