In die Ketelkelder is van links Jaco­mien Schimper, Paul Colditz (voorsitter van die Vriende van Naln), dr. Inge Venter, prof. Mercia Coetzee en Ina Rossouw. Venter bedryf die boekwinkel in die kelder en die ander drie vroue is vrywillige werkers by Naln. Foto: Dirk Kok


Vir boekliefhebbers en versamelaars van ou koerante en tydskrifte lê ’n lekker Saterdag (10/06) voor in die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) in Bloemfontein se ou Ketelkelder – een van die grootste tweedehandseboekwinkels in die Vrystaat.

Die Vriende van Naln hou van 08:30 tot 12:00 sy eerste Saterdag-boekemark ná die Covid-19-pandemie.

“Hier is duisende boeke in die Ketelkelder te koop, van letter­kundige en historiese werke, vakliteratuur, gebruikte handboeke, ensiklopidieë en Christelike lektuur tot ontspanningsliteratuur soos gewilde internasionale slapband-treffers, asook langspeelplate,” sê dr. Inge Venter, wat as ’n vrywillger dié boekwinkel Maandae en Donderdae van 09:00 tot 12:00 vir die Vriende van Naln bedryf.

As deel van Naln se 50ste bestaansjaarviering kry boekliefhebbers 50% korting, wat beteken dat ’n goeie boek tot so min soos R10 of R15 kan kos.

Vir versamelaars van ou koerante en tydskrifte is daar ’n bonus, sê Naln se Annelien Diedericks.

Mense kan Saterdag die trotse eienaar word van ou koerante en tydskrifte uit die reuse-versameling van die Vrystaatse skrywer en akademikus prof. Jaap Steyn, wat op 7 September 2021 oorlede is.

Steyn se boekversameling van 10 000 boeke word in Orania vir die nageslag bewaar, en van sy persoonlike besittings, dokumente, tydskrifte en koerante is in die Naln-versameling opgeneem. Sy suster, Ria Müller, het koerant- en tydskrifeksemplare waarvan daar meer as een in sy versameling was ten bate van die Vriende van Naln geskenk.

Müller het dié historiese tydskrifte en koerante in pakkies opgemaak vir Saterdag. Met ’n geldelike skenking aan die Vriende van Naln kan mense die eienaar van so ’n pakkie uit Steyn se versameling word, sê Diedericks.

Die Vriende van Naln wil voortaan meer gereeld weer op Saterdae boekemark hou. Paul Colditz, voorsitter, sê die voort­setting van Naln se bewaring van die literêre en musiekerfenis hang van die Afrikaanse taalgemeenskap af.

“Sowat 30 jaar gelede het hier 40 vakkundiges by Naln gewerk. Nou is hier drie vakkundiges in die personeel en drie assistente. Hulle kan onmoontlik alles alleen doen.”

Skenkings van boeke en langspeelplate aan die Ketelkamer word verwelkom. Rig navrae per e-pos aan vriendevannaln@gmail.com.

You need to be Logged In to leave a comment.