Boekliefhebbers almal gesalf met die ink-gees

Sedert my kinderdae was daar ’n groepering mense wat uitgestaan het as die waarmakers van drome. Biblioteektannies.


Sedert my kinderdae was daar ’n groepering mense wat uitgestaan het as die waarmakers van drome. Biblioteektannies.

En nee, almal is nie oud genoeg om tannies te wees nie, en ek vermoed daar is ook Biblioteekooms.

In my grootworddorp was die openbare biblioteek altyd die lekkerste plek – met die tannie-gidse wat geweet het na welke wêreld om my heen te verwys.

Daar was ook die skoolbiblioteke, met die biblioteekjuffrou wat dikwels ’n skuilplek gebied het teen die aanslag van die opvoedkunde wat dikwels ongenaakbaar fel of vervelig kon wees.

My biblio-crush het my oor die jare na verskeie boekwinkels en biblioteke gelei.

Dit het begin by die tweedehandseboekwinkel wat ook seep verkoop het. Wanneer Pa sy leesstof gaan uitsoek het, het hy nie omgegee dat ek Die ruiter in swart of Kid die swerweras winskopies aanskaf nie. Wanneer iemand sou mor oor die duiwelsboekies wat ek lees, was Pa onversetlik: solank die kind lees, kan hy lees wat hy wil.

Ná skool was boek- en platewinkels die beste manier om ’n stadsdag te verwyl. Letters en note van oor die hele wêreld het hulle op rakke staangemaak om gesien en gehoor te word. Daar was ook my kennismaking met tweedehandseboekwinkels in kusdorpies tydens seevakansies. Veral in Natal het tweedehandse boeke mos so ’n muf, klam reuk wat soms voelbaar oor kreukelrige, geelwordende bladsye is.

Daar is boonop boekwinkels wat met koffiekuierplekke saamspan om die leeservaring te kaffeïniseer – wat ’n fees.

En net toe die boekwurmparadys perfek is, haal die tegnologie ons in. Skerms ding teen papier mee.

Dit is goed én sleg. Om snags op ’n skerm in die bed te lees is nie so frustrerend vir ’n kamermaat as wat dit is wanneer ’n mens die bedliggie aanskakel en die omblaaiery hul slaap verstoor nie; maar ai, dis darem nie dieselfde as ’n boek nie.

Vir my het die digitalisering van boeke iets anders weggeneem. Benewens biblioteek­tannies is daar die boekwinkelmense. Hoe lekker is dit nie om ’n boekliefhebber aan die ander kant van die toonbank aan te tref nie? Iemand wat weet wat jy graag lees, wat jou vertel van nuwe boeke waarvan jy nog nie gehoor het nie. Nog gidse na woordwêrelde.

Bloemfontein het verskeie boekwinkels. In elk van hierdie winkels is daar storiemense. Geen mens kan immers tussen boeke leef sonder dat die ink-gees jou salf nie.

Boeksiele is soms agter die toonbank, ander kere snuffelende letterjagters soos jyself. Of dit nou op ’n mark is, in ’n winkel met tweedehandse skatte, of in winkels waar die boeke se ruggrate nog ongekraak is – in boekplekke loop jy soms onvergeetlike karakters raak.

Soek jy dus iets lekkers om te doen in die feestyd?

Gaan kuier in die boekplekke van Bloemfontein en verloor jouself, of vind jouself, tussen stories en karakters wat jou vakansie onvergeetlik sal maak.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.