Van links is Paul Colditz (voorsitter van die Vriende van Naln), Wyno Simes (kurator: Naln) en dr. Nicol Stassen (besturende direkteur: Protea Boekhuis). Foto: Lientjie Mentz


Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln) wat volgende jaar sy 50ste bestaansjaar vier, het Vrydag (18/11) ’n reuse-skenking van 300 boeke in ontvangs geneem.

Die skenking is deur dr. Nicol Stassen, besturende direkteur van die Protea Boekhuis, aan die sentrum oorhandig.

Wyne Simes, kurator by Naln, sê hy het vroeër vanjaar ’n versoek gerig vir skenkings van boeke sodat Naln op datum kan kom met die nuutste uitgawes van publikasies.

Naln is so ’n bietjie van ’n heilighdom van die Afrikaanse boek. Dis ’n lewende monument van ’n taal

Paul Colditz, voorsitter van die Vriende van Naln, sê die gebaar deur Protea Boekhuis is kosbaar. “Dit sal ’n groot bydra lewer tot die toekoms en uitbou van Afrikaans,” het hy op die oorhandiging gesê.

Stassen het gesê die skenking is net die begin van ’n proses om al die Afrikaanse publikasies wat deur hulle uitgegee word, aan Naln te skenk.

“Naln is so ’n bietjie van ’n heilighdom van die Afrikaanse boek. Dis ’n lewende monument van ’n taal,” het hy op die geleentheid gesê.

Leana Lategan, voormalige hoofvakkundige beampte van Naln, sê die boeke sal as navorsingsbron vir navorsers toeganklik wees en sal ook as unieke eksemplare in uitstallings gebruik word.

“Dit is ook opvallend hoeveel gehaltetekste in vertaalde vorm deur Protea Boekhuis uitgegee word,” het sy gesê

“Dis ’n reuse-geskenk van groot waarde vir Afrikaans.”

You need to be Logged In to leave a comment.