Volgens statistiek word soveel as 58% van skoolkinders in Suid-Afrika geboelie.
’n Onlangse studie toon dat Suid-Afrika die tweede hoogste in die wêreld gegradeer word in terme van mense wat op die internet geboelie word.
Engo Gesinsorg in Bloemfontein het in September verlede jaar sy eerste Anti-Boelieprojek by een van Bloemfontein se skole begin.
Sedertdien is die projek in 28 sessies by tien skole in Bloemfontein en die omgewing aangebied waartydens sowat 4 000 kinders bereik is.
Die projek fokus nie net daarop om boelie-gedrag te voorkom nie, maar ook om kinders te bemagtig om op te staan teen die boelie sonder om self boelie-gedrag te toon. Die kinders leer vyf opsies om boelie-gedrag teen te staan.
Die kinders word ook geleer om verantwoordelikheid vir hul eie optredes te neem.
Die laaste sessies vir vanjaar is 26 Oktober by Solidify Home Academy in Bloemfontein aangebied. Tydens hierdie geleentheid het die skool die inisiatief geneem om geld vir Engo in te samel met ’n muntlegging waar die woord “Hoop” uitgespel is.
Leerlinge het ook nie-bederfbare voedsel aan Engo geskenk wat met groot waardering deur Engo se personeel ontvang is.
Solidify Home Academy is ’n tuisonderrig-sentrum waar elke kind kan streef na sy eie doelwitte.
Alicia Loots, eienaar van die skool, sê hulle help kinders van enige ouderdom en agtergrond om gereed te wees vir die wêreld.
“Geen leerhindernis is vir ons ’n probleem nie,” sê sy oor dié skool.