Carl Gutter wat Woensdag in die Brandfort-landdroshof verskyhn het.

‘n Boer van Brandfort het op 21 Mei in die Brandfort-landdroshof verskyn op ‘n klag van moord nadat hy op dieselfde dag deur lede van die Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoekspan (Valke) in hegtenis geneem is.

Carl Gutter (78) het in die hof verskyn op ‘n klag van moord ná die skietdood van Sonnyboy Segalo van Brandfort. Die klag spruit uit ‘n insident op 29 Augustus 2016 toe die polisie ontbied is na Gutter se plaas Palmietfontein naby Brandfort oor ‘n plaasaanval.

Op die plaas aangekom, het die polisie vier verdagtes gevind wat deur ‘n groep boere en plaaswerkers in hegtenis geneem is.

Een van die vier het op die grond gelê met ‘n koeëlwond in sy rug. ‘n Vuurwapen wat na bewering aan die verdagtes behoort het, is drie dae later naby die toneel gevind.

Die vuurwapen en nog ‘n wapen wat aan Gutter behoort, is ingehandig vir balistiese toetse. Segalo is later aan sy beserings dood. Sy drie mede-beskuldigdes is later vrygespreek van poging tot roof.

Hoewel niemand aanvanklik vir die moord op Segalo in hegtenis geneem is nie, het die ondersoek na sy moord voortgegaan. In Maart 2025 het die Brandfort-landdroshof beveel dat Gutter in hegtenis geneem word op klag van moord op Segalo.

Gutter is op borgtog van R2000 vrygelaat en die hofsaak is tot 29 Mei uitgestel sodat hy in die Brandfort-streekshof kan verskyn.

Die hoof van die Valke in die Vrystaat maj.gen. Mokgadi Bokaba het die speurders en staatsaanklaers geloof dat hulle nie opgegee het met die ondersoek na die saak nie.

“Hoewel dit gelyk het of die saak ‘n dooiepunt bereik, het hulle voortgegaan. Nuwe getuienis kan enige tyd in ‘n saak opduik wat die ondersoek in ‘n nuwe rigting kan stuur. Die saak sal die oorledene nie terugbring nie, maar dit is ‘n kans vir geregtigheid om te geskied,” het Bokaba gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.