’n Gholf- en boeredag word op Vrydag 27 September deur die nie-winsgewende organisasie Agriculturedotgolf by die Bloemfontein-gholfklub aangebied.
Johan Gunter van Agriculturedotgolf, sê dié landboumaatskappy beywer hom vir landelike veiligheid in die Vrystaat.
Dit is die vierde jaar agtereenvolgens dat die gholf- en boeredag aangebied word.
“Ons tema hierdie jaar is ‘Tegnologie vir sekuriteit’ en ons gaan op die boeredag sprekers hê wat oor hierdie tema praat, asook demonstrasies aanbied van veiligheidstoerusting.
“Tydens hierdie dag gaan daar n verskeidenheid landbou-ondernemings uitstal,” verduidelik Gunter.
Boereverenigings van oor die Vrystaat heen gaan aan die gholfdag deelneem.
Ignatius van Niekerk, direkteur van Opulentia-finansiële dienste, wat ook ’n boer is, het gesien dit is noodsaaklik om die private sektor, finansiële instellings, landboumaatskappye, landbouers en plaaswerkers bymekaar te bring met gholf en sodoende geld in te samel, en dan in samewerking met Vrystaat Landbou (VL) opleiding aan te bied ter ondersteuning van landelike veiligheid.
“Dit is vir Agriculturedotgolf belangrik om by te dra om die Vrystaat se landbouers en ekonomie te beskerm, en ons wil maatskappye nooi om met ons hande te vat met hierdie dag.”
Belanghebbendes in die sakesektor, landbou- en boeregemeenskap word genooi om betrokke te raak.