Bome gee lewe, skaduwee en dit verander ’n kaal tuin oor ’n paar jare in ’n knus, gesellige plek vir almal wat daar kom.
Carin Beukes, die nuwe prinsipaal en bestuurder van Engo se Ons Kinder-en-jeugsorgsentrum in Bloemfontein, is verheug oor ’n skenking van vier bome wat die sentrum ontvang het.
As deel van die onderneming MMS Holdings se inisiatief #OneMMS Way het dié firma Dinsdag 27 Februarie die Engo-sentrum gekies as hul begunstigde.
Diederik van Niekerk, MMS Holdings se senior direkteur, sê die inisiatief word in samewerking met hul kliënte aangebied met die natuur en die planeet in gedagte om hul dankbaarheid te toon.
“Die projek Arbor Meus, wat in Latyns beteken ‘My Boom’, is ’n veldtog waar ons ons top-kliënte nooi om ’n inheemse boom te kies uit een van die lande waar die onderneming geleë is.
“Die bome word dan geplant om die klant te eer as ’n gebaar van dankbaarheid.”
Van Niekerk sê hierdie eko-vriendelike benadering tot korporatiewe geskenke beklemtoon hul verbintenis tot volhoubaarheid en ’n blywende vennootskap.
Beukes sê dit is so lekker as besoekers op die terrein kom en sien dit is ’n groot tuiste vir kinders.
“Skenkings soos hierdie is ’n luukse en help ons om ’n omgewing te skep waarin ons kinders kan ontspan en speel soos alle kinders graag wil doen.”
Johan Laubscher van Kareekop Trees en sy span het gehelp om die bome te plant. Hy het almal ook ingelig oor die verskillende bome se eienskappe en hoe die bome versorg moet word.
Hulle het een witstinkhoutboom, twee swartkareebome en een vaderlandswilger geplant.