Plaaslike boogskutters is vereer vir hul deelname aan provinsiale en nasionale kompetisies wat die afgelope jaar gehou is.
Die Vrystaatse Boogskietfederasie het Vrydag (27/05) ’n geselligheid in die lapa by die Hoërskool Sand du Plessis gehou waarop medaljes, asook provinsiale en nasionale kleure, oorhandig is.
Nege skuts het medaljes ontvang vir hul deelname aan die nasionale virtuele binnenshuise kompetisie wat van 13 tot 15 Mei gehou is.
Vyf Vrystaatse en Noord-Kaapse skuts het goud gekry op die kompetisie wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Binnenshuise en Veldboogskietvereniging (Saifaa) aangebied is: Kobus Barnard, Juan Maree, Wallie Arpin, asook Misha en Henru Goosen (8). Laasgenoemde is ’n tweeling van Kathu wat in Bloemfontein aan die kompetisie kom deelneem het.
Katelynn Muller (9) van die Eunice Primary School het ’n silwermedalje in dié kompetisie gekry.
Die bronsmedaljewenners was Michelle Maree, Guillaume Pelser en Skyla Maree (11) van Eunice.
Die Vrystaat het die derde meeste inskrywings uit 158 vir hierdie kompetisie gehad.
Skuts wat drie kwalifiserende totale op kompetisies behaal het en vir Vrystaatkleure kwalifiseer, is:
- Kobus Barnard wat in Augustus gaan deelneem aan die wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Estland (binnenshuis en veld);
- Juan Maree (binnenshuis);
- Marius Wessels van Wepener (binnenshuis);
- Dewald Jerling (binnenshuis);
- Ernst van Rensburg van Senekal (binnenshuis);
- Steve Swanepoel (binnenshuis);
- Guillaume Pelser (binnenshuis);
- Michelle Maree (binnenshuis);
- Rozaan Bosch (binnenshuis en veld);
- Quinita Swanepoel (binnenshuis);
- Katelynn Muller (junior, binnenshuis);
- Skyla Maree (junior, binnenshuis); en
- Nicolas Maree (9) (junior, binnenshuis).
Skuts wat vier kwalifiserende totale op kompetisies behaal het en daarom vir nasionale kleure kwalifiseer, is:
- Michelle Maree (binnenshuis);
- Juan Maree (binnenshuis);
- Marius Wessels (binnenshuis);
- Guillaume Pelser (binnenshuis);
- Skyla Maree (binnenshuis); en
- Katelynn Muller (binnenshuis).