Die twee mans wat weens die dubbele moord op ’n boere-egpaar van die Glen-distrik buite Bloemfontein teregstaan, het Maandag hul borgtogaansoeke laat vaar.
Mohau Lebeko (39) en Motlalentoa Wolf (25) sou Maandag om borgtog aansoek doen, maar het ter elfder ure daarteen besluit.
Die twee plaaswerkers staan elk voorlopig tereg op twee aanklagte weens die moord op Christo Morrison en sy vrou, Christa (albei 73), van Glen.
Hulle staan ook tereg op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede omdat hulle glo die egpaar gedwing het om R110 000 na hul bankrekeninge oor te plaas.
Hulle het die egpaar se selfone en bankkaarte geroof, luidens die klagstaat.
BloemNuus het vroeër berig die egpaar is op 3 Mei op hul plaas Rietfontein, in die Glen-distrik, sowat 25 km noordoos van Bloemfontein, vermoor.
Christa se halfnaakte lyk is in ’n septiese put van 3 m diep gegooi en haar man se lyk in ’n boorgatput 300 m van hul huis af.
Hy is na bewering met ’n skaapskêr vermoor, terwyl sy glo met ’n mes keelaf gesny is. Die mes is nog nie opgespoor nie.
Morrison het die betrokke oggend lone betaal en luidens die dossier is die motief vir die moorde vermoedelik ’n loongeskil.
Landdros M. Ndlovu het albei die verdagtes se verhoor tot 1 Julie vir verdere ondersoek uitgestel.
Lebeko en Wolf is op 10 Mei in ’n gastehuis in Bloemhof, Noordwes, in hegtenis geneem.
Na verneem word, was die gastehuis waar hulle tuisgegaan het vir ’n maand vooruitbetaal.
BloemNuus verneem verder dat die mans glo familielede in onder meer Bloemfontein, Thaba Nchu, Botshabelo en Welkom besoek het voordat hulle in Bloemhof vasgetrek is.
Thabang Mokokwe kla aan.