’n Man van Bloemfontein wat oor die naweek glo ’n familielid in Pentagonpark in die stad doodgeskiet het, is op Maandag 13 Mei op borgtog vrygelaat nadat hy in die landdroshof hier verskyn het.
Vusumzi Belle (42) is borgtog van R1 000 toegestaan nadat hy vlugtig op aanklag van moord verskyn het.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie.
Belle se verskyning spruit uit ’n voorval Saterdag omstreeks 20:30 toe Katleho Motloung tydens ’n rusie in ’n huis in ’n meenthuiskompleks in Calliopestraat twee keer geskiet is.
Belle is Motloung se oom.
By die polisie se aankoms op die toneel het Motloung se ma hulle na ’n kamer in die huis gelei waar haar seun gelê het.
Lt. kol. Thabo Covane, polisiewoordvoerder, sê die ma beweer ’n rusie het tussen haar seun en sy oom ontstaan, waarna die oom sy gelisensieerde vuurwapen uitgehaal en haar seun na bewering in die regterhand en in sy bors geskiet het.
Volksblad
het vroeër berig die oom het eers ’n waarskuwingskoot gevuur, maar die jong man het glo steeds op hom afgestorm.
Na verneem word, wou Motloung glo dagga rook, maar Belle het dit verbied.
Volksblad
verneem voorts Motloung is vroeër die aand voor ’n keuse gestel van óf alkohol gebruik, óf die rook van dagga.
Hy het glo die eerste een gekies, maar wou later ook dagga rook.
Belle se verhoor is tot 19 Junie vir verdere ondersoek uitgestel.