Kaartjies vir die sewende Mokala-boskonsert is byna uitverkoop.
Dié gewilde konsert, vanjaar met Bok van Blerk en sy orkes as gaskunstenaar, word van 8 tot 10 April in die Mokala- Nasionale Park aangebied.
Die park is sowat 80 km suid van Kimberley langs die N12 geleë.
Die boskonsert word jaarliks deur die Sanparke-ereveldwagters se Vrystaatstreek aangebied om die park se inkomste aan te vul.
Dit lewer elke jaar ’n groot bydrae tot bewaring in Mokala.
Pakkette, waarvan die prys afhang van die verblyf wat gekies word, sluit in verblyf vir twee aande vir twee mense, braaivleis die Vrydagaand en ’n buffet-ete en die konsert die Saterdagaand.
Plek is nog in Dinokeng, een van die luukse boomhuise, beskikbaar, asook enkele plekke in selfsorghutte in die Mosu-, Lilydale- en Haak-en-Steek-ruskamp.
Gaste het genoeg tyd om oor die naweek die hele park te verken.
Wild soos gemsbokke, basterhartbeeste, bastergemsbokke, koedoes, buffels, kameelperde en swartwitpense is in die park te sien.
Voëlkykers kan gerus hul verkykers inpak om die groot verskeidenheid voëls te aanskou. ’n Besoek aan die Stofdam-voëlskuiling sal ook vir hulle die moeite werd wees.
Soos vorige jare sal die boskonsert weer ’n onvergeetlike ervaring onder die Noord-Kaapse sterrehemel wees.
- Belangstellendes kan Ina Leamy by 082-202-4202 bel of ’n e-pos na ina@honoraryrangers.org stuur om meer oor die konsert uit te vind of plek te bespreek.
Die boskonsert sal weer ’n onvergeetlike ervaring
onder die
Noord-Kaapse sterrehemel wees.