Die Sanparke-ereveldwagters se negende jaarlikse Boskonsert die naweek in die Mokala- Nasionale Park suid van Kimberley was ’n onvergeetlike geleentheid.
Sowat 100 gaste is onder die Noord-Kaapse sterrehemel deur ’n sangvertoning deur Mathys Roets en Jacobus Silwer meegevoer.
Die geleentheid Saterdagaand – met die kunstenaars wat agterop ’n vragmotor by die Stofdam-voëlskuiling opgetree het – het hoogtepunte uit dié kunstenaars se vertoning Afrikaans, die taal van my hart bevat en Afrikaanse hartsliedjies soos “Sprokie vir ’n stadskind”, “Skipskop”, “Droomvrou” en “Sonvanger” het die gaste ontroer.
Die Boskonsert het weer gepaard gegaan met ’n aansit-ete aan tafels in die veld, terwyl jakkalse in die omgewing geroep en selfs ’n uiltjie van bo kom loer het wat aangaan.
Die parkhoof, Johan de Klerk, en lede van sy personeel het ook die konsert bygewoon wat deur die Sanparke-ereveldwagters in die Vrystaat-streek aangebied word om geld vir die park in te samel.
Een van die gaste, Johan Martin, ’n prokureur en sakeman van Bloemfontein, het die geleentheid as ’n belewenis beskryf.
“Heerlike kos, vriendelike mense en dan die hoogtepunt: Saterdag se konsert. Dit was asof die kunstenaars hul musiek spesiaal vir die park gekies het – perfekte harmonie.”
Volgens Martin was die musiek behoorlik “tuis in die bos” en het dit harte aangeraak.
Volgens Paul Colditz, nasionale voorsitter van die Sanparke-ereveldwagters en lid van die organiseringskomitee, is die “boskonsert” inderwaarheid ’n hele naweek van opwindende geleenthede wat uitloop op die konsert self – in die bos, onder die maan en sterre.
“Die gaste het almal gesê hulle het ’n onvergeetlike naweek en konsert geniet. Ek glo egter dat die toegewyde, hardwerkende en toegewyde ereveldwagters wat betrokke was by die aanbieding van die naweek selfs meer pret en vervulling gehad het om natuurbewaring en ons gaste met ’n aangename en herinneringskeppende ervaring te dien.”
Colditz sê die geld wat ingesamel word, gaan vir die vervulling van die Sanparke-ereveldwagters se mandaat ter ondersteuning van Sanparke.
Die Mokala- Nasionale Park van ongeveer 38 000 ha, wat ook ’n tuiste aan ’n paar skaars spesies soos bastergemsbokke, swartwitpense en basterhartbeeste (tsessebes) bied, is uitsonderlik groen danksy milde reën wat die week vooraf nog geval het.
Die dagtemperatuur het tot die naweek nog by die 30 °C gaan draai.
- Die tiende Boskonsert word volgende jaar op die naweek van 11 en 12 April gehou. Rig navrae aan Ina Leamy by ina@sanparksvolunteers.org.