Ná nog ’n jaar van aanpassing en teleurstelling weens Covid-19 lyk die vooruitsigte goed dat leerders in 2022 meer geleentheid gaan kry om hul staal op talle terreine te toon.

Bothaville Hoërskool het besluit dat vanjaar se tema “Kom ons bou”sal wees.

Bybelse held inspireer

Die verhaal van Nehemia wat die mure van Jerusalem in 52 dae herbou het, is die agtergrond daarvoor – en wel om die volgende redes:

  • Nehemia het sy gemaklike stand as die koning se skinker prysgegee.
  • Hy het drie nagte in die geheim die skade ondersoek en beplanning gedoen.
  • Hy het spanne laat vorm en elke span moes voor sy eie huis aan die muur bou.
  • Hy moes talle struikelblokke oorkom, byvoorbeeld die gespot van mense, aanvalle van buite en sy eie mense wat moeg geword het en wou opgee.
  • Nehemia het self die voorbeeld gestel.
  • Hy het streng reëls ingestel. Sonder reëls sou die bouwerk nie geslaag het nie.
  • Ondanks talle uitnodigings het hy nie tyd daaraan afgestaan om te kuier of te onderhandel nie. Daar was werk om te doen wat God aan hom toevertrou het.

Daar was genoeg rede vir Nehemia om te sê: Dit is nou genoeg. Kom ons gee op. Die puin en murasies is te veel. Die gevaar is te kwaai. Kom ons hou op en gaan terug na ons gemaklike lewe.

Almal wat help bou het, het egter vasgebyt. Hulle het hulle nie deur die swaarkry van stryk laat bring nie, maar deurgedruk en gesê: Kom ons bou.

Stewige fondament reeds gelê

Die mate waartoe Bothaville Hoërskool op alle terreine van skoolwees presteer, is alombekend in onderwyskringe.

Die uitdaging waarmee die skool eerder te kampe het, is hoe om nie in ’n gemaksone te verval nie, maar te bly ontwikkel en te bou aan ’n reeds uiters effektiewe opset. Die fokus is dus vanjaar om van uitstaande na skitterend te beweeg, en daarom ook die leuse “Kom ons bou”.

Die skool se nuwe ondernemings werp óf reeds vrugte af, óf sal binnekort ’n invloed hê:

  • Ná slegs een jaar dat luggeweerskiet as sportsoort by die skool aangebied word, is ’n Vrystaatskut reeds opgelewer.
  • Volgende jaar sal leerders aan die skool ’n eerste keer Landboutegnologie en Toerisme in die matriekeindeksamen skryf.
  • Van 2023 af is Landboubestuurspraktyke ook deel van die kurrikulum.
  • Die aanstelling van Elucia van Staden as biokinetikus en gimnasiumbestuurder sal tot nog beter prestasies deur die skool se sportmanne en -vroue bydra.

Dit is hieruit duidelik dat die skool voortdurend daarna strewe om aan die voorpunt van vernuwing en doeltreffendheid te wees.

Dit is baie goed om te presteer. Om op talle verskillende terreine te presteer is skitterend. Voortdurende vooruitgang en vernuwing op verskillende terreine is Bothaville Hoërskool.

You need to be Logged In to leave a comment.